GEDIG DEUR PHILIP DE VOS
Hallo walvis
hoesie water?
Nat, ou pellie,
sien jou later!
Gedig deur Philip de Vos
Skilpad kan nie sing nie
Skilpad kan nie spring nie
Stom
en
stadig
stap
hy aan
waar sy skilpadpad mag gaan.
GEDIG DEUR PHILIP DE VOS
Die liedjie
van my rietfluit
my gonnie-piet-
verdriet-fluit
het niks
het niks
van die
ret-tet-tet
van die
luister-hoe-ek-
skree-trompet,
het niks
het niks
van die
rom-tom-tom
van die
hier's-ek-weer-
met-my-
trommel-trom;
hy't net
hy't net
die fyn verdriet
die fyn verdriet
van die fluitjiesriet