Google Groups no longer supports new Usenet posts or subscriptions. Historical content remains viewable.
Dismiss

"Die Brand" deur JAN F.E. CELLIERS

75 views
Skip to first unread message

home.com

unread,
Jul 11, 2001, 12:30:41 PM7/11/01
to
DIE BRAND
Jan F. E. Celliers
(1865 - 1940)

Dit is die winterwind wat waai,
al wenend deur die lange nag,
al wenend om die verre dag;
die twye swenk, die takke swaai -
dit is die winterwind wat waai.

Hy sleep die sug van eeue mee
uit dieptes van die diepe see,
en waar vergane skepe rus
op menig maan-gebleekte kus;
hy sing van lang-vergete wee:
hy bring die sug van eeue mee.

Hy kom oor velde ver en wyd,
oor grafte in hul eensaamheid,
waar moeders van hul sorge rus,
waar kindersnikkies is gesus -
dit is die lied van die eensaamheid -
hy kom oor velde ver en wyd.

*

“My ma, ek hoor van verre om
‘n dreuning oor die velde kom!”
“Dit is die bome in die wind:
die wilgertakke kreun, my kind.” -
“My ma, ek hoor my brakkie huil:
wat sou daar kruip, wat sou daar skuil?” -
“My kind, die nag is koud en lang:
die diertjie is alleen en bang.”

“My ma, dit dreun al in die rond
soos perdehoewe op die grond;
my ma, wat lig daar soos ‘n vuur
van buite op die kamermuur?
My ma, daar brand die koringmiet!” -
“My kind, die Heer se wil geskied!”

*

Daar staan ‘n moeder met haar kind
allenig in die winterwind -
en niemand wat haar trane siet,
en niemand wat haar trooste bied.

En wilde vlamme strooi dit wyd,
die vrug van lange lewensvlyt -
in vonke deur die lug gesaai,
in vonke wat die wind verwaai.

Haar kindjie, aan haar bors gevou,
beskut sy teen die winterkou -
die trane wat sy swyend ween,
so op haar wang tot ys versteen.

En winterwinde sing die lied
van eensaamheid en stil verdriet;
en sonder weerklank sterf die klag
op wye velde in die nag,
al sugtend deur die gras se saad -
en verre is die daeraad.

Die twye swenk, die takke swaai,
dit is die winterwind wat waai...


0 new messages