Dit is die winterwind wat waai,
al wenend deur die lange nag,
al wenend om die verre dag;
die twye swenk, die takke swaai -
dit is die winterwind wat waai.
Hy sleep die sug van eeue mee
uit dieptes van die diepe see,
en waar vergane skepe rus
op menig maan-gebleekte kus;
hy sing van lang-vergete wee:
hy bring die sug van eeue mee.
Hy kom oor velde ver en wyd,
oor grafte in hul eensaamheid,
waar moeders van hul sorge rus,
waar kindersnikkies is gesus -
dit is die lied van die eensaamheid -
hy kom oor velde ver en wyd.
*
“My ma, ek hoor van verre om
‘n dreuning oor die velde kom!”
“Dit is die bome in die wind:
die wilgertakke kreun, my kind.” -
“My ma, ek hoor my brakkie huil:
wat sou daar kruip, wat sou daar skuil?” -
“My kind, die nag is koud en lang:
die diertjie is alleen en bang.”
“My ma, dit dreun al in die rond
soos perdehoewe op die grond;
my ma, wat lig daar soos ‘n vuur
van buite op die kamermuur?
My ma, daar brand die koringmiet!” -
“My kind, die Heer se wil geskied!”
*
Daar staan ‘n moeder met haar kind
allenig in die winterwind -
en niemand wat haar trane siet,
en niemand wat haar trooste bied.
En wilde vlamme strooi dit wyd,
die vrug van lange lewensvlyt -
in vonke deur die lug gesaai,
in vonke wat die wind verwaai.
Haar kindjie, aan haar bors gevou,
beskut sy teen die winterkou -
die trane wat sy swyend ween,
so op haar wang tot ys versteen.
En winterwinde sing die lied
van eensaamheid en stil verdriet;
en sonder weerklank sterf die klag
op wye velde in die nag,
al sugtend deur die gras se saad -
en verre is die daeraad.
Die twye swenk, die takke swaai,
dit is die winterwind wat waai...