Wanneer ‘n mens in Natal op die westelike deel van
Mont-aux-Sources se amfiteater staan en iemand jou
vertel dat die eerste waters van die Oranje-rivier daar
begin, dan kan jy dit amper nie glo nie. Dis so ver na
die ooste vir ‘n rivier wat uiteindelik in die weste in
die Atlantiese Oseaan uitmond.
Vandaar loop die rivier al kronkelend, nou effe suid
en dan weer noordweswaarts, totdat dit ‘n magtige rivier
word wanneer die waters van die Vaalrivier daarby aan-
sluit. Dit stort oor Boegoeberg se dam (daar waar die
nooiens hulle hare was en kam). Wanneer dit by Upington
kom, sprei die rivier uit en skep ‘n reeks van groter en
kleiner eilande. Voor die aankoms van die witman in
hierdie streke het die Khoesan dit die Gariep of Eyn
genoem. Verskillende stamme het daar hulle tuiste gemaak.
Die Korakwas het uit die suide noordwaarts getrek om weg
te kom van die witmense wat in die suide hul woongebiede
oorgeneem het. Drie stamme van die Eynikwa (die Rivier-
volk) het hulle op die groen eilande van die Oranje gevestig:
die Namnykwa op die eilande bokant Augrabies, die Kaukwa
op die eilande wes van Keimoes, en die Aukokwa op die
eilande oos van Keimoes. Toe ek as kind daar op ‘n eiland
in die Oranje met bruin kinders gespeel het, het ek gespeel
met afstammeling van hierdie eens onafhanklike en dus
trotse stamme? Niemand het my ooit van hulle vertel nie.
In die skool het ons alleen gehoor van hoe ons wit voorouers
oor die see hierheen gekom het en van die geskiedenis van
mense op ander kontinente.
Erens in die geweste van Kimberley het die Oranje
miljoene jare gelede deur ‘n diamantdraende keel gevreet.
Daarom was die Oranje die draer van diamante deur die
eeue. In die loop van duisende en duisende jare het die rivier
se bedding noord verskuif. As gevolg daarvan was daar in
die heuwels aan die suidekant alluviale diamante op sommige
plekke. As kinders het ons baie keer gaan speel in die gate wat
soekers na diamante in die heuwels gemaak het. Ons
het nooit diamante gevind nie. Wel somtyds klein robyntjies
wat gewoonlik in die teenwoordigheid van diamante gevind
word.
Ons lewens was ook op ander maniere deur diamante gevul.
Elke keer as ons die Augrabiese Valle besoek het, het ons met
groot wonder gestaan en praat oor die moontlikheid dat daar
duisende en duisende diamante daaronder in die gat is wat
die water deur die eeue uitgehol het. Stories is vertel van die
mense wat dit gewaag het om daar te duik as die water laag
was. Niemand was ooit suksesvol nie.
Baie keer het mense by ons agterdeur kom aanklop en vir
my pa probeer oorreed om ‘n klippie te koop, wat volgens hulle
‘n diamant was. My pa het vir ‘n rukkie saamgespeel en dan
uiteindelik verklaar hy is nie geinteresseerd nie. Partykeer het
ons gewens ons pa moet meer waaghalsig wees : jy het geweet
van mense wat fortuine gemaak het in die onwettige diamant-
handel. Ons het natuurlik ook grootgeword met die stories van
die diamante wat sommer so in die sand gevind kon word aan
die mond van die Oranje, en watter planne mense gehad het
om die diamante uit te smokkel vanagter die doringdraad wat
die spergebied omring het.
Wanneer ons in die droe lope van die rivier as kinders
gespeel het, het ons ons oe oopgehou. Maar diamante het ons
nie eintlik daar verwag nie. Wel was daar allerhande halfedel-
gesteentes en sommer allerhande gewone klippies wat deur
die eeue se werking van die water so mooi glad geskuur was.
En nou en dan het ons ‘n werklike kosbare ontdekking gemaak:
die rare pienk en wit Oranjerivier-lelie wat net groei waar dit
deel van die tyd met water bedek is. Nou eendag hier in
Kanada vind ek ‘n foto daarvan in ‘n toeriste-brosjure. Ek was
so aangedaan. Dat ander mense ook weet van die blom! Het ek
gedink dat die blom verdwyn het saam met my jeug?
Gloudina