'n briefie van 'n pa

10 views
Skip to first unread message

Marius Janse van Rensburg

unread,
Apr 3, 2008, 4:55:31 AM4/3/08
to Bonds, pas-s...@googlegroups.com

Vandag is Vadersdag, en alhoewel mamma en die omies wat haar vertel wat om te doen, my nie toelaat om jou te sien vandag nie, wil ek graag vir jou vertel hoe kosbaar jy vir my is.

Elke dag, en vernaam op hierdie spesiale dag, is ek so dankbaar vir Liewe Jesus dat Hy jou aan ons gegee het.  Toe jy gebore is op daardie sonnige dag in April, het die son ook behoorlik in my hart geskyn.  Ek onthou nog toe jou klein gesiggie uitgekom het.  Jy het so moeg gelyk, maar dit was darem vreeslike harde werk vir jou.  Ek sal nooit die uitdrukking op jou gesiggie vergeet nie…daardie pragtige ogies wat na my gestaar het.  Ek wonder wat jy gedink het van al die mense om jou.  Het jy geweet ek is jou pappa? 

Daardie dag het jy trane van blydskap in my oe gebring.  Vandag is daar trane van hartseer in my oe vir wat ek en mamma besig is om aan jou te doen.  Jy het altyd nog net vreugde aan ons gebring.  Soos jou juffrou Karen vir almal vertel, jy is ‘n engeltjie uit die hemel wat Liewe Jesus vir ons gestuur het.  Almal met wie jy in aanraking kom, se lewens kan nooit weer dieselfde wees nie.  Ook nie pappa s'n nie.

Pappa onthou nog die lekker tydjies wat ons in die oggende gehad het.  Jy was altyd so opgewonde as jy wakker geword het, so vol van lewe, en lus vir die lekker dag wat vir jou gewag het.  Jy het altyd so bly gelyk om mamma en pappa te sien in die oggend as jy jou ogies oopgemaak het.  Is jy nog so ‘n bondeltjie van lewe in die oggend?  Pappa mis die tydjies saam met jou verskriklik baie.  Maar ek belowe dat ons weer sulke tydjies saam sal geniet. 

Pappa wens so ek kon jou styf vashou vandag.  Ek wil jou so graag in my arms toevou…jou sagte voorkoppie teen my wang voel.  Weet jy hoe baie pappa daarvan hou as jy jou klein armpies styf om my nek vou, en saggies vir my vertel dat jy ook lief is vir my.  Selfs net om te hoor jy noem my pappa, maak my hartjie so bly.

Jy is nog so klein, skaars 3 jaartjies oud, en jy moes al soveel deurmaak.  Pappa weet dat jy nou wil begin verstaan hoekom jy my vir so lank nie sien nie.  Jou vragies van “hoekom werk pappa so lank?” en “maar jy het my nie kom haal by my skool nie” laat my met geen woorde nie.  My engeltjie, pappa weet nie eens wat om vir jou te vertel nie.  Ek wil jou so graag elke dag sien, maar ek mag nie meer nie.  Ek weet dit maak nie vir jou sin nie, maar jy moet net weet dat dit ook nie vir pappa sin maak nie.  Pappa is vreeslik baie lief vir jou, en sal enigiets gee om elke dag by jou te wees.  En jy moet weet dat ek regtig baie, baie hard probeer.  Maar die ander mense wil pappa nie toelaat nie.

Pappa kan nie meer die hartseer verduur nie, maar hoe harder pappa probeer, hoe meer hartseer word almal.  Ek wil so graag seker maak dat jou hartjie altyd bly sal wees.  Daarom dat ek weer gaan probeer om vir mamma alles te gee wat sy vra, sodat ons kan ophou baklei, en dan kan ons almal weer gelukkig wees. 

Onthou jy dat pappa jou gewys het waar jou hartjie is, en dat Liewe Jesus daarbinne is om jou hartjie bly te maak.  Net so is pappa ook altyd by jou in my gedagtes.  Ek sal altyd en altyd jou pappa wees, en altyd en altyd lief wees vir jou.  Jy is pappa se poplappie, en ons gaan nog sommer baie speel en baie lag.

Pappa wil net vir jou vertel dat as jy ook verlang na pappa, maar ek mag nie dan by jou wees nie, dan kan jy net vir Liewe Jesus bid, dan sal hy weer jou hartjie bly maak, en sommer gou-gou sal pappa weer by jou wees.

Eendag sal die traantjies opdroog, dan sal ons hartjies nie meer so seer wees nie.

Onthou dat ek altyd en altyd lief sal wees vir jou…my enigste dierbaarste engeltjie.

Van pappa Steven.

 


No virus found in this outgoing message.
Checked by AVG.
Version: 7.5.519 / Virus Database: 269.22.5/1356 - Release Date: 2008/04/02 04:14 PM

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages