"Een Here, een geloof, een doop".
"4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon."
Ons is aan die woorde uit Efesiërs 4 herinner toe ons in 'n kring rondom 'n brons doopbak voor in die Lutherse kerk in Bryanston gestaan het. Dit was 'n interkerklike diens. Ons was net so meer as 20 predikante, priesters en geestelikes van verskillende kerke. Ons het die byeenkoms ter voorbereiding van Hervormingsfees bygewoon en gehou.
"Een Here, een geloof, een doop".
Die doopbak was die fokus van die deel van die diens. Terwyl die predikant water in die doopbak gegooi het, het hy die woorde gesê. Toe het hy met sy hand die teken van 'n kruis oor die doopbak gemaak.
"Jesus is die Here."
Hierdie kernbelydenis moet elke gelowige volgens Romeine 10:9 en 1 Korintiërs 12:3 wil en kan bely.
Ons gebruik eintlik nie meer die woord "heer" of "here" in ons spreektaal nie, behalwe by funksies waar iemand mense verwelkom of aanspreek as "dames en here". Ons weet dit is 'n formele aanspreek van manne.
In die belydenis "Jesus is die Here" sit veel meer as 'n formele aanspreek. Dit is soos ek sê 'n belydenis. Dit verklaar iets oor Hom.
'n Mens kan terugdink aan die gemeenskap in die tyd van die Nuwe Testament. In daardie tyd het mense iemand wat aan die hoof van 'n huishouding gestaan het aangespreek as "heer". In die breër gemeenskap is die keiser aangespreek as "heer". Trouens dit was 'n besondere soort verheerliking wat aan die keiser toegeken is.
As 'n mens dink aan hoe die term "Heer" in die breër konteks van die Bybel 'n rol speel, dan is die eerste punt wat uitstaan dat die woord "Here" of "Heer" 'n term is waarmee God benoem word. Dit is die woord waarmee die Godsnaam weergegee word. "Here" is 'n meervoudsvorm waarmee iets van die grootheid en grootsheid van God beskryf probeer word.
As ek Sondag na Sondag in die erediens verklaar "Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here" wat verklaar ek dan?
Is dit maar sommer net 'n aanspreekvorm, 'n beskrywing? Of is dit iets veel meer?
In die eerste ruk na die diens in Bryanston het ek baie oor die rol van die doop in die kerk nagedink. Die doop is dikwels nie so 'n belangrike saak in ons geestelike lewe nie. Moet ons onsself nie meer dikwels herinner aan wat die Here daardeur vir ons wil sê nie?
Dalk is die beste verhaal om aan die belydenis "Jesus is die Here" te koppel, die een van Thomas wat die opgestane Here ontmoet het. Hy wou mos graag sy vingers in die merke in Jesus se hande sit en sy hand in die merk in sy sy. En toe ontmoet hy die opgestane Jesus self en hy bely: "My Here en my God!"