“Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem...”
As die profeet Sagaria met sy boek begin, is die eerste boodskap waarmee hy na sy luisteraars kom ‘n oproep tot bekering.
Dit was vir my ‘n verrassing om te sien dat Sagaria drie en vyftig keer die term Here van die leërskare gebruik. Dalk onthou jy dat ek gesê het dat die vertalers besluit het om die term in die 1983 Afrikaanse Bybel as die Here die Almagtige weer te gee. Ons verstaan dalk Here die Almagtige beter as Here van die leërskare.
Sagaria is nie so ‘n bekende of geliefde profeteboek soos Jesaja nie. Miskien is die feit dat hy in sy boek naggesigte opteken verantwoordelik daarvoor dat dit saam met ander boeke waarin gesigte of visioene aangeteken is, gereken word as misterieus.
Bekering is die begin van die pad van herstel. Die profeet Sagaria se boodskap is dat die Here Israel wil herstel. En dan is die eerste boodskap van die Here af dat Israel hulle moet bekeer. Hulle moenie soos hulle voorouers wees nie. Hulle moet terugkeer na die Here en Hy sal tot hulle terugkeer.
Vertalers vertaal die woord wat in Hebreeus dikwels vir terugkeer gebruik word, dikwels as “bekering” of “bekeer julle”. Dit is ook wat in Sagaria 1:3 gebeur. Daar staan letterlik “’Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer’ verklaar die Here die Almagtige.”
En dan in die eerste visioen of naggesig verklaar die Here die Almagtige dat Hy hartstogtelik begaan is oor Jerusalem.
Is dit nie wonderlik genadig en liefdevol nie?
Dalk is dit net ek wat so dink, dalk is dit by ander ook so. Sodra ek aan die Here se almag dink, dink ek aan sy onoortreflike krag. Sy vermoë om alles en almal onder sy beheer te hou. Maar dit lyk my dat die profeet Sagaria die Here se besorgdheid en ontferming raakgesien het.
Die Here is almagtig in genade en ontferming.