646 - Die Glansende Môrester

3 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Dec 21, 2025, 8:50:37 AM12/21/25
to Padkos

Die glansende Môrester

Ek dink my slaappatroon was altyd nie goed nie. Jare gelede het ek as klein seuntjie een oggend vroeg saam met Oupa by die kombuistafel sit en swart koffie drink. As ek terugdink daaraan, was dit die eerste keer dat ek die môrester gesien het. Hy het my buitentoe geneem en dit vir my gaan wys. Oupa het my vertel dat die môrester aandui dat die nuwe dag aan die kom is. Dit was klaar besig om lig te word, netnou skyn die son.

Jesus is die glansende môrester. Hy verklaar dit in Openbaring 22:16.  Die Môrester as beskrywing van Jesus, die Messias, kan teruggevoer word na Numeri 24:17. In Bileam se vierde uitspraak wat hy op versoek van Balak doen, verklaar hy dat hy sien dat daar "'n ster uit Jakob, 'n heerser (letterlik 'n "septer") uit Israel" sal voortkom. Bileam is daardie ou wie se donkie met hom gepraat het. Eintlik was Bileam dus 'n profeet – iemand wat namens die Here praat.

In Sagaria se loflied by die geboorte van Johannes die Doper verklaar hy dat Iemand soos die moreson sal opgaan en sy lig sal gee op die wat in duisternis woon en in die skadu van die dood. Gaan lees die mooi loflied in Lukas 1:68-79. Op sigself is dit 'n wonderlike loflied en beskrywing oor die betekenis van Johannes die doper en Jesus se bedienings.

In die Adventsgebed vir 21 Desember word die beskrywings opgeneem:

O Môrester, Glans van die ewige lig en Son van geregtigheid,

Kom en verlig ons wat in die duisternis sit en in die skadu van die dood.

 

Iemand wat die betekenis van Jesus as die Môrester verstaan en verwoord het, was Philipp Nicolai. Hy was die predikant in 'n Duitse stad Unna. Tydens sy bediening breek daar pes in die stad uit. Hy skryf dat hy feitlik in die begraafplaas gewoon het in daardie tyd (1598) toe daar tussen 24 en 30 mense per dag begrawe moes word. In 1599 publiseer hy die lied waarop Lied 372 in die Liedboek van die Kerk gebaseer is. Dit is een van die kersliedere. Hier is die woorde van die eerste strofe:

Hoe glansryk blink die Môrester,

hoe helder skyn die lig van ver

in donker aardse nagte!

O Ster uit Jakob wat ook my

met hierdie wonderlig verbly,

ek is u dag te wagte.

Christus Jesus,

U wat lewe,

hoor my lied en

hoor my bede :

o bestraal my pad met vrede!

 

  

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages