God die Vader
“Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.”
Die vers kom uit Psalm 103.
Dit is nie die eerste vers wat in my kop opkom as ek oor God die Vader dink nie. Daar is baie ander. Die Ons Vader gebed. Jesus se woorde in die Bergrede. Jesus se gesprekke met die dissipels in Johannes.
As ons oor God praat, gebruik ons beelde.
Met die sin bedoel ek nie net God die Vader nie, maar ook Jesus Christus en die
Heilige Gees.
Ons kan nie anders nie.
Om verstaanbaar te praat koppel ons woorde
aan mekaar. Ons gebruik woorde vir bekende dinge om onbekende dinge of moeilik
verduidelikbare dinge te beskryf.
Natuurlik gebruik ons soms ook bekende woorde vir die misterieuse om iets van
die misterieuse verstaanbaar te maak.
Ek dink dit is wat ons probeer doen om in die Twaalf Artikels God Vader te noem. Soos ek reeds gesê het, is daar baie Bybelse tekste wat verklaar dat Hy Vader is.
Soms gaan ons van die standpunt uit dat ons by ons aardse voorbeelde van vaders kan begin en dan ons prentjie oor God as Vader uitkom.
Ek is oortuig dat ons andersom te werk moet gaan. Ek dink ‘n mens moet by die Bybelse beelde oor die Vader begin en dan na ons aardse vaders begin kyk.
Neem nou maar die vers uit Psalm 103. Die beeld wat die digter wil beklemtoon is die ontferming waarmee God Hom oor ons ontferm. Laat ‘n slag jou gedagtes gaan na al die tekste en voorbeelde van God se ontferming waarvan jy uit die Bybel weet. Dink ook sommer ‘n bietjie aan voorbeelde van sy ontferming in jou en ander mense se lewens.
In die Ons Vader leer Jesus ons om oor die omvattendheid van God se Vaderskap te dink deur met Hom oor die totaliteit van ons lewens en die wydheid van Sy vermoëns te bid.
Ek hoor in Jesus se gesprekke met sy dissipels oor die Vader dat Hy toeganklik is. Nêrens hoor ek dit so mooi soos in Johannes 17 waar Hy tot die Vader bid oor sy dissipels nie. Gaan lees gerus daar oor hoe nou die Vader aan die Seun verbonde is. Jesus bid vir dieselfde verbondenheid tussen die Vader en ons.
Ek wil nog verder dink oor wat ons bedoel as ons sê “Ek glo in God die Vader”