As U die Seun van God is ...
“Die doel heilig die middele”
Ek weet nie of jy al die uitspraak gebruik het nie, maar dalk het jy dit al ‘n paar kere gehoor.
In Matteus 4 en Lukas 4 lees ons hoe die verhaal oor Jesus verloop het na sy doop. Ons weet nou reeds dat daar na afloop van Sy doop daar ‘n stem uit die hemel was wat verklaar het: “Dit is my geliefde Seun”. Hierdie verklaring was nie net ‘n godsverskyning nie, maar ‘n godsbekendmaking.
Kort na afloop van die gebeure lei die Gees Jesus na die woestyn om daar deur die duiwel versoek te word.
Ek het al verskillende interpretasies van die versoekingsverhale gehoor en gelees, maar ek dink dat die duiwel hard probeer het om Jesus te oortuig dat die doel die middele heilig. Jesus wou nie aan die uitnodigings van die duiwel byt nie.
In die versoeking wat die duiwel aan Jesus stel om brood te maak, was die uitdaging wat hy aan Hom rig, redelik voor die hand liggend. Die duiwel wou hê dat Jesus vir ‘n oomblik aan Homself moes dink. Hy was honger, Hy het nodig gehad om te eet. Wat was nou makliker om dadelik vir Hom brood op tower?
Die versoeking wat die duiwel aan Hom rig om van die hoogste punt by die tempel af te spring is in die opsig interessant omdat die duiwel Hom eintlik uit te daag om God op die proef te stel. Wat sou God doen om Hom te red?
Wanneer die duiwel die versoeking aan Hom rig dat Hy hom moet aanbid, dan is dit eensklaps duidelik: dit gaan nie eintlik oor wie Jesus is nie, maar oor die duiwel se rol.
As ek die Evangelies lees, tref dit my dat Jesus in staat was om brood te maak. Die verskil is net dat Hy brood vir die mense gemaak het. In die evangelies lees ek dat toe Jesus sy lewe aan die kruis gegee het, het God deur die opwekking weer aan Hom die lewe gegee het. Ek lees ook dat Jesus se totale ingesteldheid was nie om die mag en beheer oor die koninkryke van die aarde te verkry nie. Hy wou die wil van God doen. Daarom was Hy nie bereid om die duiwel te aanbid nie.
Twee keer tydens die versoekings daag die duiwel Jesus uit met die woorde “As U die Seun van God is ...” en dan moet Hy iets doen om sy Seunskap te bewys. En Jesus bewys juis sy Seunskap deur nie te doen wat die duiwel wil hê nie, maar deur te doen wat die Vader wou hê.
Jesus maak brood, Hy gee sy lewe, Hy kry al die mag in hemel en op aarde. Hoe het dit gebeur?
Hy het nie “die doel heilig die middele” benadering gevolg nie.
Hy was gehoorsaam aan die Vader. Hy het die pad geloop wat Sy Vader vir Hom in die vooruitsig gestel het.