O Koning, kom en red die mensdom
Gister voor die erediens het ek sit en kyk na en nadink oor die kroon in die krip voor die kansel.
Ek het nie altyd die impak van die wyse manne se vraag aan Herodes oor die koning van die Jode wat gebore is, verstaan nie. Dit was veel later dat ek dit in verband gebring het met Jesaja se woorde in Jesaja 9 oor die komende Messias: Hy sal die heerskappy op sy skouers hê en sy heerskappy sal uitbrei en vermeerder deur reg en geregtigheid tot in ewigheid.
Die Messias, Jesus, is koning!
Hy word as Koning aangespreek in die Adventsgebed vir 22 Desember:
O Koning van die nasies, U is hulle verlange en hoeksteen,
U wat die twee een gemaak het;
Kom, en red die mensdom wat U uit die stof gevorm het.
Daar is soveel gedagtes wat die gebed in my kop laat opkom.
Ek dink aan Jeremia. In Jeremia 10:7 het hy die belydenis oor God gemaak: "Wie sou vir U nie ontsag hê nie, Koning van die nasies."
Hy verklaar ook: Niemand is soos U nie, Here!
Jesus het nie net gekom om die koninkryk
van God in Israel te vestig nie, maar om Sy heerskappy oor al die nasies te
bevestig. Daarvan is die koms van die wyse manne uit die ooste die eerste
teken. Hierdie eerste teken van Jesus se koningskap oor al die nasies, kry veel
dieper betekenis met Sy afskeid van dissipels waarvan Matteus aan die einde van
sy Evangelie vertel: Hy gee die
dissipels die opdrag om na al die nasies toe te gaan en die mense sy dissipels
te maak.
Hy is Koning oor die nasies.
Ek dink oor Paulus. Hy dink in Efesiërs 2 oor die betekenis van Jesus se koms na die wêreld en verklaar dat Jesus versoening bewerk het tussen die Jode en die nasies. Hy maak hulle 'n eenheid. Met Sy koms en deur sy kruis het Hy die muur tussen mense afgebreek. Hy is die hoeksteen van die gebou wat God besig is om op te rig. Hy is die hoeksteen van die kerk.
Watter gedagtes het jy oor die feit dat Jesus die koning van die nasies is?
Dalk is al die gedagtes nie so belangrik nie. Dalk is dit belangriker om te bid:
O Koning van die nasies, kom en red die mensdom wat U uit die stof gevorm het.