God die Vader – Getsemane
Ek hou nie daarvan om familiêr met mense te wees nie. Ek sal nie sommer iemand op sy of haar naam aanspreek nie. Gewoonlik spreek ek eers ‘n persoon aan as meneer of mevrou of juffrou, dokter (doktor) of professor. Ek dink iemand moet jou toestemming gee om hom of haar op die naam of noemnaam aan te spreek.
In die Ou Testament is daar ‘n hele klomp aanspreekvorme vir God. In Henry Blackaby se boek “Experiencing God” het hy ‘n lang lys gemaak van al die beskrywings en aanspreekvorms. Tog is dit vir my interessant dat as die Twaalf Artikels God beskryf, dit Hom beskryf as “die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde”. Hoekom sou dit die drie terme wees wat in die Twaalf Artikels gebruik word om Hom te beskryf?
Terwyl ek nadink oor God die Vader, onthou ek toe die interessante gebed van Jesus in Getsemane wat Markus vir ons opgeteken het: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”
Die ander evangelies sê dat Jesus gebid het “My Vader” of net “Vader”.
Die kombinasie “Abba Vader” tref ‘n mens benewens in Markus 14:36 ook aan in Paulus se briewe. In Galasiërs 4:6 en Romeine 8:15 skryf Paulus hoe die Here die Gees in ons gee wanneer ons kinders van God is en ons laat roep “Abba Vader”. In die oorspronklike teks staan die Aramese woord vir vader en die Griekse woord vir vader direk langs mekaar. Daar staan dus werklik “Vader Vader”. Die vertalers het gekies om nie die Aramese woord te vertaal nie, daarom is dit “Abba Vader”.
Ek wil van Paulus se gebruik van die twee terme saam teruggaan na Jesus se aanspreek van God in Getsemane: “Abba Vader”. In die gebed hoor ek iets van ‘n diep afhanklikheid. ‘n Diep onderwerping aan die Vader. ‘n Inval by die wil van die Vader. Ja, daar is ‘n bewustheid van die Vader se vermoë vir die moontlike, maar daar is oorgawe aan die wil van die Vader.
Ek weet dat daar mense is wat sê dat Abba die Aramese woord vir Pappie is. Maar ek wonder of Jesus in Getsemane “Pappie” sou gesê het.
Vader is ‘n woord wat uit die groep woorde kom wat ons vir gesin en familie gebruik. Miskien gaan ek te ver om te dink dat wanneer ons God as Vader aanspreek, ons verklaar dat ons ingeneem is in Sy familie
Tog wil dit vir my lyk of Jesus in sy gebruik van die aanspreekvorm Vader nie familiariteit wou bevorder nie, maar afhanklikheid.