Jy moet Hom Jesus noem
Ek dink Shakespeare of was dit nou Romeo(?) was verkeerd toe hy gesê het “Wat is in a name? A rose by any other name will smell the same.”
Gabriël sê vir Maria dat sy die Seun aan wie sy geboorte gaan skenk Jesus moet noem. Dit is die tweede keer in Lukas se vertelling van geboorteverhale waar die ontvanger van die engel se boodskap ook hoor wat die kind se naam moet wees. Sagaria hoor dat die seun aan wie sy vrou geboorte gaan skenk se naam Johannes moet wees. Maria hoor haar seun se naam moet Jesus wees. In nie een van die twee gevalle word daar vir die ontvangers gesê wat die betekenis van die name is nie.
Uit die Liedboek sing ons Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesusnaam, ‘n engel deel dit mee”.
Is dit werklik hoe ons voel oor die naam “Jesus”? Dat dit “wonderlik”, “heerlik” is?
Soos ek vroeër gesê het, die engel verduidelik nie vir Maria waarom haar seun se naam Jesus moet wees nie. Hy vertel vir haar ander besondere aspekte van Jesus se lewe en bediening, maar hy verduidelik nie Jesus se naam nie. Moes Maria dit maar self verstaan het?
As ‘n mens egter Matteus se verhaal oor Josef se droom lees waarin die engel hom vertel van Jesus se geboorte, hoor ‘n mens wel dat die engel sê dat Hy mense van hulle sonde sal verlos.
“Verlosser” sou die kort weergawe van Jesus se naam kan wees.
In Numeri 13:16 is ‘n terloopse verklaring: “Moses het aan Hosea die seun van Nun die naam Josua gegee.”
In die kort verklaring is daar egter veel meer opgesluit. Josua se naam was eers Hosea. Hosea is die Hebreeuse woord vir “verlossing”. Is dit nie ‘n wonderlike naam wat die Hebreeuse ouers vir hulle kind gegee het nie! Dit is moeilik om te verstaan waarom Moses Hosea se naam verander het, maar ons kan spekuleer. Dit lê dalk in die betekenis van die naam Josua. Josua beteken “Die Here verlos”.
Dit bring ons by Jesus se naam uit. Jesus was die Griekse en Latynse vorm van die Hebreeuse woord Josua.
Toe Sagaria gehoor het dat hy sy seun Johannes moes noem, moes hy verstaan dat daar iets aan die betekenis van die naam is wat mense moes verstaan. Johannes se naam beteken “die Here is genadig”.
Toe Maria gehoor het “Jy moet Hom Jesus noem” moes sy verstaan het – almal wat sy Naam gehoor het moes verstaan: Die Here verlos.
Inderdaad. Daar is meer in ‘n naam!
“Hoe heerlik is die Jesusnaam!”
Ek glo in Jesus Christus” beteken ek verklaar God het Sy Seun gestuur. Hy bring die verlossing wat Hy bewerk.