640 - "Wie in die Seun glo, het die ewige lewe"

4 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Feb 3, 2025, 11:26:49 PM2/3/25
to Padkos

“Wie in die Seun glo, het die ewige lewe”

Op ‘n dag gebeur dit: jy kyk na ‘n skildery wat vir jou oorbekend is en skielik jy sien iets raak wat jy nog nooit gesien het nie. Of iemand wys dit vir jou en jy kan nie verstaan dat jy dit nog nooit raakgesien het nie.

Dit is wat met my gebeur het.

Toe ek so in my voorbereiding vir my reeks oor die Twaalf Artikels deur Johannes se Evangelie lees, ontdek ek dat Johannes 3:16 die eerste keer is dat Jesus na Homself verwys as die Seun van God.

Johannes vertel in Hoofstuk 3 mos hoe Nicodemus in die nag in gesprek met Jesus was. Die optrede het Ferdinand Deist beïnvloed om Nicodemus ‘n nagdissipel te noem. Hy kom in die nag, in die geheim na Jesus. Hy wil so ‘n dissipel wees: in die geheim. Die mense moet dit weet nie. Maar met hom voer Jesus die eerste een van verskeie diepsinnige gesprekke in die Evangelie.

Hoe Jesus daarby uitkom om Homself die Seun van God te noem, werk so:

As Nicodemus nie verstaan hoe wedergeboorte moontlik kan wees nie, vertel Jesus hom van verlossing. Hy vertel hom dat die Seun van die mens die enigste Persoon is wat al in die hemel was. Maar nou is die manier hoe God verlossing bring juis deur die Seun van die mens. Die mense (en God) gaan Hom oplig. Hy gaan verhoog word tot aan ‘n kruis. Dit sou Nicodemus nie verstaan het nie. Maar ons wat die verhaal wat Johannes vertel deurlees en ken, ons weet! Ons weet Jesus se verhoging is sy kruisiging.

Maar dan vertel Jesus vir Nicodemus van God se liefde vir die wêreld: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Ja, die woorde is die eerste waarmee Jesus verklaar dat Hy die Seun van God is.

En dan lê Hy daar in daardie gesprek die grondslag vir die woorde van vandag se opskrif: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe”. Die woorde kom uit Johannes 3:36. Dit is Johannes se opsomming van Jesus se boodskap in Johannes 3.

Omdat Jesus die Seun van God is wat verhoog is, gekruisig is, kan ons die ewige lewe hê. En die lewe is as gevolg van die liefde van God deur die geloof.

Ek dink die groot waarde om oor Jesus se menslikheid na dink help ons. Dit help ons nie ons aardse en liggaamlike lewe nie te minag of van te min waarde te beskou nie. God het immers besluit dat Sy Seun tussen ons in ‘n menslike liggaam te kom inwoon.

Tog is dit van groot waarde om in Johannes 3:16 te hoor dat God se Seun gekom het as gawe sodat ons nie verlore hoef te gaan nie. Ons kan die ewige lewe hê.

Jesus se antwoord op Nicodemus se vraag hoe dit moontlik is dat mense wedergeboorte kan ontvang, is dat God Sy Seun gegee het.

“Wie in die Seun van God glo, het die ewige lewe”.

 

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages