635 - Ek glo in Jesus Christus

0 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Dec 10, 2024, 11:53:40 PM12/10/24
to Padkos

Ek glo in Jesus Christus

Die handelsnaam “Rituals” het dadelik my oog gevang, toe ek die toiletware present gekry het. “Rituals help you to slow down, to find happiness in the smallest of things” was van ‘n deel van die woorde op die verpakking.

Ek mis dit as ek ‘n erediens bywoon en die leier van die erediens nie ‘n diensorde volg nie. Daardie elemente van ‘n erediens: om die wet of ‘n teks vir verootmoediging te lees, liedere van skuldbelydenis te sing, die geloofsbelydenis te lees en die mense dit laat saam sê. Daar’s nog ander elemente ook.

Ek hou van die godsdienstige rituele waardeur ons gaan. Dit help my om rus te kry, te dink, te fokus.

As selfs die bemarkers van toiletware vir mans die waarde van rituele besef, wonder ek waarom ons rituele uitskakel uit ons lewens.

Ek is mos besig om na te dink oor die Twaalf Artikels en wou eintlik nog oor die frase “Ek glo in Jesus” skryf, toe dit my tref dat daar eintlik staan “Ek glo in Jesus Christus”. Die term “Christus” beteken gesalfde. Dit dui op ‘n ritueel.

Ons ken die ritueel.  Die profeet Samuel het Saul tot koning gesalf het en ‘n paar jaar later Dawid.

Al vier die evangelies gebruik die term Christus om na Jesus te verwys. Sowel Matteus as Markus vertel dat hulle evangelies handel oor Jesus Christus. Eintlik is Christus ‘n titel en nie ‘n naam nie. Om Jesus die Christus te noem is om na Hom as die Gesalfde van God te verwys.

Nadat Andreas vir Jesus begin volg het, gaan roep hy sy broer Petrus. Volgens Johannes 1:41 sê hy dat hulle die Messias, die Christus, gekry het. Onder die Jode het die verwagting oor die eeue heen bestaan dat God ‘n Gesalfde sal stuur: Iemand om Israel te verlos. Maar ook veel meer te doen.

Elke keer as ek die ritueel uitvoer om te bely, afsonderlik, of as deel van ‘n geloofsgemeenskap, bely ek: “Ek glo in Jesus Christus”. Ek glo dat Jesus God se spesiale Gesalfde is.

En dit maak my dankbaar.

Dit troos my.

Dit maak my bly.

Jesus is God se gesalfde.

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages