626 - Ek glo in God die skepper

0 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Oct 7, 2024, 1:05:29 AM10/7/24
to Padkos

Ek glo in God die skepper

Ek wonder dikwels of Genesis 1 se skeppingsverhaal die eerste skeppingsverhaal in Israel se godsdiens was. Om oor die skepping en die ontstaan daarvan te dink, het nie net te doen met die skepping nie, maar met wie ek as mens in die skepping is.

Vriende het my onlangs bederf deur my saam te vra toe hulle ‘n week by ‘n vakansieoord gekry het. Ons het baie ure op die stoep gesit en op die Krokodilrivier sit en uitkyk. Met my aankoms was daar ‘n hele swerm geelbekooievaars wat hul daar tuisgemaak het. Hulle was elke dag daar rond waar ons na hulle kon kyk. Dan was daar kolganse, nonnetjieseende en baie ander soorte voëls. Ek sal my spasie opgebruik as ek ‘n lys moet maak van al die voëls (meer as 80 soorte) en diere wat ek gesien het in die byna 7 dae van die kuier.

“Ek glo in God die Skepper” is ‘n bril waardeur ek leer kyk het na dit wat in die natuur gebeur. Ek ontken nie dat die skeppingsverhaal van Genesis 1 die eerste verhaal is wat ek leer ken het oor God se vermoë om te skep nie. Dit is ‘n besondere verhaal. Dit is natuurlik meer ingewikkeld as wat mens in die eerste oorvertel oplet. Die verhaal stroop heidense godsdienste van hulle mag en houvas op mense. Stel jou voor as jy ‘n verhaal hoor van ‘n God wat ‘n hemelruim geskep het waar jou gode eintlik net tekens is wat die dag of nag aandui of wat gebruik word om seisoene aan te dui vir feeste wat Hy instel. Dink jou in ‘n God wat lig skep drie dae voordat Hy die son maan en sterre gemaak het. ‘n Skepper wat die visse maak vir die see en die voëls vir die hemelruim. Dan maak Hy nog al die diere van die veld en die kruipende diere. Alles voordat Hy die mens maak.

Is die mens die hoogtepunt van die skepping soos Psalm 8 verklaar?

Ek dink nie. Ek dink die rusdag is die hoogtepunt van die skepping. God het die rusdag ook gemaak.

Maar terug by God as skepper. Kyk jy na die skepping en verwonder jy jou daaraan en wonder dan wie of wat dit geskep het?

Ek is nogal geneig om te dink dat Psalm 19 ons vertel dat as jy in die aand na die sterre kyk, of in die oggend die son glorieryk sy rooi kop bo die horison sien uitdruk, jy hulle getuienis hoor oor God as skepper.

Die eerste skeppingsverhaal wat ons in Genesis hoor en lees vertel ons nie net van ‘n God wat gode van hul mag stroop nie, maar van Hom wat nie net orde uit chaos skep nie, maar iets manjifiek, verbysterend daarstel. Hy skep habitats waar mense, diere, voëls, visse, insekte kan lewe.

Hy skep lewe.

Hier teen so 17:35 elke aand het die vlermuise uit ons dak by die vakansieoord begin uitvlieg vir hulle nagtelike vlug op soek na insekte. In ‘n boom nie ver van ons af nie het ‘n geelbekwou so 7 minute voor die tyd hom of haar tuisgemaak. Hy of sy het gewag om te sien of daar nie vir hom ‘n vangs moontlik is onder die honderde vlermuise wat saans uit die huise se dakke die nag invlieg nie.

Ek glo in God die skepper van vlermuise, woue, olifante, berge, muskiete en mense. Ek glo in God die skepper van vloedvlaktes en woestyne. Ek glo in God die skepper van orde uit chaos. Ek glo in God die skepper van ‘n rusdag.

 

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages