‘n Dinosourus in die Kinderbybel
Ek dink soms kinders verstaan die teologie beter as teoloë.
Een van my seuns het kleintyd my gevra waarom daar nie prente van dinosourusse in die Kinderbybel is nie. Sy gedagte was dat as ons sê dat die Here God die hemel en die aarde gemaak het, moes Hy ook dinosourusse gemaak het.
“Leviatan aan ‘n lyntjie” is die titel van ‘n boek wat Prof Pieter de Villiers geskryf het oor apokaliptiese geskrifte wat in die tyd tussen die tyd van die Ou Testament en die Nuwe Testament in Israel om omgang was. Hy het die titel gekry uit “Die gesig” ‘n gedig van Sheila Cussons. Daarin beeld sy uit hoe ‘n dogtertjie wat saam met God stap, ‘n leviatan soos ‘n troeteldier aan ‘n leiband het.
Ons het twee apokaliptiese geskrifte in die Bybel, Daniel en Openbaring. Dit is boeke wat allerlei beelde en simboliek gebruik om boodskappe van God aan mense in krisistye oor te dra.
Die idee dat God die chaos magte oorwin het, is nie een van die prominente skeppingsverhale in die Bybel nie. Jy gaan dit nie raaklees in Genesis nie. tekens daarvan is wel te vinde in gedeeltes in die boek Job, Psalms en Jesaja.
Nou het ek alreeds die leviatan genoem. Dit is een van die legendariese seemonsters wat in die Psalms genoem word. In Psalm 104 hoor ‘n mens dat die Here hom gemaak met om mee te speel.
“Die aarde was woes en leeg en donkerte was oor die oerwater.” Dit is hoe Genesis 1 die toneel beskryf voordat God se skeppingswerk begin. As ek Jesaja 51:9 lees waar die profeet beskryf hoe die Here God -die monster Rahab verslaan het en die seemonster deurboor het. Etan die Esragiet praat ook daarvan in Psalm 89. En herhaaldelik hoor ‘n mens in Job van die Here se mag wat Rahab verslaan het.
Uit buite-Bybelse bronne weet ons van Rahab en die leviatan. Hulle was deel van die chaos magte en die skepping was nie moontlik voordat hul mag nie verbreek was nie. Dit klink in elk geval vir my dat die profeet Jesaja en die skrywers van die Psalms en Job oortuig was dat die Here God die houvas van die chaos verbreek het. Ek is selfs oortuig dat die wonderlike orde wat Genesis 1 gebruik om die Here God se skeppingsdaad beskryf nie net ‘n wonderlike teenvoeter vir chaos is nie, maar dit volledig deurbreek.
Ek het al die gevoel my seun was reg. As ek bely dat die Here God die skepper van die hemel en die aarde is, moet ek aanvaar dat Hy ook dinosourusse kon gemaak het.
Die tannies in die Kinderkrans het hom ‘n liedjie geleer:
Die Heer is so groot, so sterk en so magtig,
Daar’s niks wat my God nie kan doen.
Die berge maak Hy
Riviere daarby
Die see en alles daarin.