682 - Ek glo on God die Skepper: "Deur die woord van die Here is die hemele gemaak"

2 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Oct 9, 2024, 1:11:57 AM10/9/24
to Padkos

Deur die woord van die Here is die hemele gemaak

“Die Heer se woord is skeppingsmagtig” is hoe Totius een van die gedagtes uit Psalm 33 in versmaat omgesit het. TT Cloete het op iets anders klem gelê toe hy ‘n versreël in Psalm 33 omgedig het tot:

“Net deur ‘n gedagte

is die Heer by magte

om te laat geskied.

 

Dalk onthou jy ook uit jou lees van Genesis 1 die volgende vers:

“Toe het God gesê: Laat daar lig wees” en daar was lig.

 

In een van sy boeke skryf Walter Brueggemann dat as ‘n mens oor die Here God as skepper wil dink, ons moet kyk na die werkwoorde wat die Bybel oor God se skeppingswerk gebruik. As ek sou probeer om jou met my gebruik van Hebreeuse woorde te beïndruk, kon ek dalk ‘n paar daarvan aangehaal het, maar dit is veel meer pret om die skeppingstories oor te vertel. Ek gaan terug na die eerste storie in Genesis.

 

In die storie vind ons eerste werkwoord. In Genesis 1:3 lees ons: “Toe het God gesê: “Laat daar lig wees”

 

Jy kan gerus Psalm 33 gaan lees en daarna weer Genesis 1 lees. Psalm 33 se verklaring is dat die Here deur Sy woord die hemele gemaak het. Dit laat ons dadelik verstaan dat God skep deur te praat.

Die psalm doen iets anders ook. Dit weerhou ons daarvan om filosofies of wetenskaplik oor die skepping te praat.

 

Soms as ons verklaar “Ek glo in God ... die Skepper”, dink mense dat ons die terrein van die wetenskap wil betree. Dit is nie wat ons wil doen nie.

 

Psalm 33 doen dit ook nie. Psalm 33 plaas met die verklaring dat God die hemel gemaak het, ons in die wêreld van die godsdiens.

 

As ons eerlik wil wees, moet ons erken dat die manier waarop ons dink en selfs glo, deurtrek is van wetenskaplike denke. Die natuurwetenskap en fisiese wetenskappe het so ‘n groot invloed op ons lewe dat ons moeilik daarvan wegkom. Mense wil vir alles omtrent ‘n wetenskaplike verklaring gee.

Selfs wanneer ons die Bybel lees, wil ons dikwels teruggaan en vra of dit wetenskaplik moontlik is. Hoe werk dit werklik?

 

Ek dink digters kan ons hiermee help.

Ek het netnou sit en blaai in FIJ van Rensburg se bloemlesing Jubilate. Hy het daarin ‘n verskeidenheid lofgedigte in Afrikaans versamel. Die gedigte praat op ‘n ander manier oor God en geloof as waarop ons soms, selfs in ons godsdienstige taal, praat.

 

Soms dink ek dat die skrywer van Genesis 1 ‘n digter was. Hy wou ons uit die wêreld van die wetenskap na die wêreld van God verplaas. Hy wil ons laat hoor dat God skep deur te praat. In jou lees van Genesis 1 sal jy oplet dat die woorde “Toe het God gesê” soos ‘n refrein herhaal. Dit kom voor in Genesis 1:3,6,9, 14,20 en 26.

En nadat God gepraat het, skep Hy.

 

Psalm 33 is ‘n lofsang waarin die Here se skeppingsmag besing word. In die lofsang staan die Here se skeppingsmag saam met die manier waarop Hy ander mense se planne raaksien. Ek dink nie ek is verkeerd as ek dink dat Psalm 33 plaas die Here God se skeppingsmag in die fokus van gelowiges se persoonlike toewyding en die erediens.

 

Ek onthou een van Johan Heyns, wat een van my professore was, se uitsprake goed. Hy het gesê: As die Here God ‘n woord spreek, handel Hy ook. As Hy ‘n woord spreek, verwag Hy ‘n antwoord.

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages