Sleutels
Jare gelede toe ons in die huis ingetrek het, het ek net een sleutel nodig gehad om by die huis in te kom. Deesdae is dit drie. Een vir die tuinhek, een vir die veiligheidshek en een vir die voordeur. Dis nou nadat ek die alarm afgeskakel het.
Jesus stel Homself as die sleuteldraer bekend in Openbaring 3:7, as Hy met die gemeente in Filadelfia praat. Hy maak oop en niemand kan toesluit nie, Hy sluit toe en niemand kan oopsluit nie. Hy verklaar ook vir die gelowiges in die gemeente dat Hy voor hulle 'n deur oopgemaak het wat niemand kan toesluit nie.
Die woorde het my herinner aan die geleentheid toe Hy vir Petrus gesê het dat Hy aan hom die sleutels van die Koninkryk gee.
Die adventsgebed vir 20 Desember lui soos volg:
O Sleutel van Dawid en septer van die huis van Israel
U wat oopsluit en niemand kan toesluit nie;
Wat toesluit en niemand kan oopsluit nie;
Kom en lei die gevangenes uit die tronk, lei hulle uit wat in die duisternis en skadu van die dood sit.
Soos heelwat van die vorige adventsgebede kom frases van die gebed of lied ook uit Jesaja. Die keer is dit Jesaja 22:22. Die woorde het die profeet aan Eljakim oorgedra, word die woorde gebruik Jesus van Homself. Eljakim as die hoof van die koning se huishouding is verantwoordelik om oop en toe te sluit.
Saam met die Kerk van die eeue bid ons ook dat Jesus sal kom om die koninkryk oop te sluit vir hulle wat gevangenes is van sonde en die dood. Ons kan bid dat Hy sal vir ons die deur na die koninkryk van God vir ons oopmaak.
Jy kan gerus in die Liedboek na Lied 409 blaai. Die lied noem Jesus die sleuteldraer wat ook vir ons die graf ontsluit.
Kom ons bid vandag:
O sleuteldraer van Dawid en septer van die huis van Israel, kom. Kom lei ons die gevangenes van die sonde, die duisternis en die dood, kom lei ons uit.