622 - God die Vader, die Almagtige

2 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Sep 25, 2024, 1:07:06 AM9/25/24
to Padkos

God die Vader, die Almagtige...

Ek dink dit is makliker om te dink wat ‘n mens oor God die Vader wil sê as oor God, die Almagtige.

My eerste gedagte was dat die Twaalf Artikels twee woordbeelde van God gee en dan een eienskap tussen die twee woordbeelde plaas. Die woorde Vader en Skepper laat ‘n mens aan gebeurtenisse dink. God tree op as Vader en Hy tree op as Skepper. Die woord Almagtige laat ‘n mens eerder aan ‘n eienskap dink.

Daar is ander eienskappe van God ons ook ken: ewig, genadig, barmhartig, vol liefde, alomteenwoordig. Jy kan tien teen een nog ‘n paar byvoeg.

Hoekom kies die Twaalf Artikels vir die term? Hoekom noem dit Hom die Almagtige. Die woord staan as ‘n aanspreekvorm van God, soos Vader en Skepper.

Die Belydenis van Nicea gebruik die woord almagtige as ‘n byvoeglike naamwoord wat God beskryf: Hy is die almagtige Vader. Die Belydenis van Athanasius gebruik nog ander terme om die Vader te beskryf: onmeetlik, ewig en ongeskape.

Ek verstaan nou nogal hoekom Thielicke in sy preekreeks oor die Twaalf Artikels nie ‘n preek het oor die Almagtige nie. Hy kies om eerder oor wonderwerke te preek. Dit is sy manier om oor God se almal te praat.

In die Afrikaanse Bybel waarmee ek grootgeword het (die Ou Vertaling van 1933 en 1953), het daar op baie plekke in die Ou Testament die term “Here van die leërskare” gestaan. Daar was wel ‘n paar plekke die woord “Almagtige” gebruik. In die Nuwe Vertaling van 1983 en 1993 is daar vir al twee terme die vertaling Almagtige gebruik.

Die eerste plek in die Ou Testament waar ek die term Almagtige teëgekom het, was in Genesis 17 waar Hy Homself so aan Abram voorstel: “Ek is God, die Almagtige”.

Dit is die bekende deel waar die Here met Abram ‘n verbond sluit: Hy sal Sy God wees en die God van sy nageslag. Hulle sal sy volk wees. Hy verander ook Abraham se naam.

Hoewel ek eers wou nadink oor wat God alles as Almagtige kan doen, dwing die gedeelte my toe om te dink dat God sy almag wys daarin dat Hy ‘n mens kies en Hom aan die mens verbind en die mens aan Hom. God se almag word sigbaar in die feit dat Hy verhoudings smee.

Die teks in Genesis 17 weerhou my daarvan om filosofies te raak oor mag en die feit dat God mag het, alle mag het. Dit dwing my om te dink aan ‘n Almagtige wat ‘n moedelose man herinner aan God se getrouheid. Hy moet dink aan God se vermoë om beloftes te maak en te hou.

As ek weer verklaar “Ek glo in God die Vader, die Almagtige” sal ek nie dadelik aan ‘n troon dink nie, maar aan God in gesprek met ‘n moedelose Abraham. Ek sal dink aan God wat ‘n verbond met mense sluit wat die toekoms vorentoe oopbreek.

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages