In die hemel is die Heer
Daar is groot verskil tussen Openbaring 4 en Psalm 104. Tog praat albei van die Here se woonplek in die hemel.
As ek dit reg verstaan is Openbaring 4 die agtergrond vir die wonderlike lied In die hemel is die Heer. Soos baie ander afrikaanse mense het ek dit in Louis Brittz se weergawe gehoor. Dit is eintlik ʼn lied van die Nederlander Tom Hiemstra. Dit besing die Here in die troonsaal. En soos ek gesê het, die agtergrond is Openbaring 4. Dit is ook ʼn teks wat meer gaan oor die belewenis as die verstaan. Doen jouself die guns en lees vir jouself die teks hardop voor. Dan probeer jy beleef wat die teks sê.
Ek weet dat daar baie dinge is wat vreemd is en onverstaanbaar. Tog is daar kleur en lig. Vuur en glans.
En dan is daar die lofliedere.
Ja, die lied fokus nie op al die vreemde nie, maar beskryf die belewenis.
Psalm 104 beskryf nie ʼn troonsaal nie. Dit beskryf ook nie ʼn troon met glans omring nie, maar dit beskryf die Een wat Homself met lig omhul.
Die Here is die een wat die hemel soos ʼn tentdoek uitsprei. Enigeen wat al tent opgeslaan het, sal weet dat tent opslaan nie een mens se werk is nie. Dit is spanwerk. Maar nie vir Hom nie. Die Here sprei die hemel uit soos ʼn tentdoek. Hy maak vir Homself ʼn woonplek bokant die waters. Hy vestig die aarde dat dit vasstaan.
Die digter is nie besig om ʼn wêreldbeeld vir alle tye te vestig nie, hy is besig om met sy wêreldbeeld te skryf dat die Here die een is wat alles sorgvuldig op hulle plek geplaas het. Dat Hy bo alles uittroon.
En tog het Hy dienaars. Die wind en vuur is sy boodskappers en dienaars. Hulle voer sy opdragte uit.
Hoewel die digter ons sekerlik nie wil laat dink dat God staties in die hemel bly nie, wil hy ons ook nie laat dink dat Hy net die hele tyd op ʼn strydwa van wolke deur die hemelruim ry nie.
Die Here is te aktief en te besig. Hy het ʼn hele skepping waarvoor Hy sorg.
Wanneer ek soms so vasgevang raak in die alledaagse dinge en die fyn detail daarvan, roep Openbaring 4 en Psalm 104 my op om oor die Here te dink: In die hemel is die Heer...
Te midde van Covid-19 en al die intriges van die lewe het die Here tent opgeslaan in die hemel. Hy het vir Hom ʼn huis gemaak in die hemel. Daar is ʼn troonsaal. En Hy is op die troon. Hy regeer.
Hy regeer ook oor my klein intriges. Hy het my verlos van die stories van my verlede en sal my red uit die uitdagings van my toekoms.
Want aan U is die mag
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer
en die lof, want U regeer, U regeer.