"O Wysheid, kom leer ons die weg van die wysheid"
"As iemand wysheid kortkom, moet hy dit van God bid". Toe ek jare gelede op skool was, was die teks in Jakobus 1:5 een van die tekste wat my gemotiveer het om voor 'n toets of eksamen ernstig te bid vir rustigheid van gemoed en verstand.
Vandag dink ek anders oor wysheid. Ek het oor die jare heen geleer dat wysheid meer is as die feite wat jy moet ken of die vaardigheid wat ek moet bemeester het vir 'n toets of 'n eksamen. Wysheid is daardie vermoë en vaardigheid wat 'n mens het wat weet hoe om reg op te tree, die regte keuses te maak. Dit is vermoë om in 'n verwarde en verwarrende wêreld te weet wat en hoe God wil hê ons moet optree, praat en dink en dan so dink, praat en optree.
Ek het die afgelope week geleer dat daar sewe gebede is wat in liedere uitgedruk word wat bekend staan as die "O antifone". Hierdie gebede was sedert die agste eeu op opeenvolgende aande voor Kersfees gesing. Die eerste een "O Wysheid... kom.." word op van die 17de Desember gebid en gesing.
Toe ek besef dat Jesus in die eerste gebed "Wysheid" genoem word, het dit my baie laat dink. Ek het benewens Jakobus 1:5 gedink aan Jesus se woorde in Matteus 12:42 dat in Sy woorde mense moes herken dat Iemand groter as Salomo teenwoordig is. Ek het gedink aan Paulus se gebed in Romeine 11:33: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
As ek rondom my kyk, na my eie lewe kyk, kom dit my voor dat wysheid nogal iets is wat in aanvraag behoort te wees. Kyk net na leiers op verskillende terreine van die lewe en in die wêreld. Dink jy ook soos ek dat ons regtig mense is wat wysheid kortkom? Dink jy ook dat ons iemand nodig het om ons weer wysheid te leer.
Ek dink nou al van vroegoggend af oor die eerste "O – antifoon". Ek gee 'n eie vertaling van die ou gebed van die Kerk
"O Wysheid, wat uit die mond van die Allerhoogste voortgekom het, wat van die een einde na die ander strek en alles kragtig en tog sagkens in orde hou, kom leer ons die weg van die wysheid".
Kort gesê: "O Wysheid, kom leer ons die weg van die wysheid".
Terwyl ons so nadink en gereed maak vir Kersfees. Kom ons bid vir wysheid. Kom ons bid vir onsself vir wysheid, vir elke leier, vir elkeen wat 'n invloed uitoefen.