Kom bevry ons, moenie langer versuim nie.
Elke keer as ek by die erf inry verlang ek na hulle: die twee bome wat ons uit die kerktuin moes uithaal. Die een het baie langer gevat om uit te haal as die ander. Hulle het die tuin se muur opgelig. Ons moet nog die muur herbou.
"Die wortel van Isai" is een van die minder bekende benamings wat op Jesus van toepassing gemaak word. Dit is ook nie baie herkenbaar in Paulus se brief aan die Romeine nie. Die vertalers van die 1983 weergawe van die Bybel in Afrikaans het besluit om in Romeine 15:12 "die wortel van Isai" te vertaal as "Isai sal 'n afstammeling hê". Romeine 15:12 verwys na Jesaja 11:10. Jesaja sê nie net in Jesaja 11:1 dat daar uit die stomp van Isai 'n takkie sal uitspruit nie, maar ook dat dit vrugte sal dra. In Jesaja 11:10 hoor ons dat die afstammeling van Isai 'n vaandel of banier vir die nasies sal wees. Die nasies sal die afstammeling raaksien
Israel se teleurstelling, dalk eerder God se teleurstelling met die konings uit die nageslag van Dawid het gelei tot hierdie profesie. God gaan 'n nuwe nakomeling gee uit Dawid se nageslag. Maar God reik verder terug, na Dawid se pa toe, Isai. Hy is die wortel waaruit die boom groei. En as die boom dan afgekap word dat daar net 'n stomp oorgebly het, dan spruit daar 'n takkie uit. En die takkie word 'n vaandel wat die nasies raaksien. 'n Teken. Dit is Jesus!
Die gebed vir die 19de Desember is:
O Wortel (afstammeling) van Isai
U wat staan as vaandel vir die volke,
Voor U sal konings swyg,
Tot U sal nasies bid,
Kom bevry ons, moenie langer versuim nie.
In die gebed is daar iets dringend. Die bidders smag na eeue van teleurstelling met aardse leiers en heersers na 'n heerser wat ons waarlik sal bevry. Ons kan nie langer wag nie.
As jy dalk vandag ook die gebed herhaal wat die kerk reeds eeue lank op 19 Desember bid, smag jy ook dat Jesus die verlosser, die afstammeling van Isai, moet kom ons om te bevry en nie langer moet versuim nie. Hy moet ons kom bevry. Geen van die bevryders wat voor Hom en na Hom gekom het, kan ons bevry soos Hy nie!
O Wortel van Isai (Afstammeling van Isai)
Kom bevry ons, moenie langer versuim nie.