Die Almagtige – die Here van die leërskare
Betekenisse het woorde. Ons sê dikwels woorde het betekenis, maar dit is andersom. Betekenisse het woorde. Ons gebruik woorde om betekenis oor te dra. Betekenis kom eerste.
Toe ek dit begin begryp het, het dit my nogal baie sensitief gemaak vir baie dinge. Ek het myself al meer probeer instel om wanneer ek na mense luister, eerder te luister vir betekenis as vir woorde.
Dit beteken nie dat ek dit nie baie keer vergeet nie. Soms raak ek verstrengel in mense se woorde. Natuurlik is dit ook so dat mense, en ek, spesifieke woorde kies vir effek.
Dalk het ek storie van Dawid en Goliat geken lank voordat ek die teksvers geleer het. Ons moes die teksvers uit ons kop leer: Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.
Dit was die woorde waarmee Dawid na Goliat gegaan het. Soos almal weet het hy Goliat verslaan.
Hoewel ek as kind nie die woord “leerskare” geken het nie, het ek verstaan dat die uitdrukking op die Here se mag dui: die mag wat ‘n jong seun in staat stel om ‘n reus te oorwin.
Toe ek vir ‘n mondelinge eksamen Hendrikus Berkhof se boek :Christelijk Geloof” moes voorberei, het ek ‘n ander prentjie van God se almag raakgesien. Hy praat van God se almag as “weerlose oormag”.
Ja, het Berkhof gesê, dit is waar dat God almagtig is, maar daar is ook ‘n weerloosheid aan Sy almag. Hy tree nie net met Sy almag alleen op nie. Hy is ook deernisvol in Sy almag.
Dit is daarom nie vir my vreemd om wanneer ek aan Dawid se ontmoeting met Goliat nadink, nie net te dink aan God se mag wat gedemonstreer word in die oorwinning nie, maar ook Sy deernis vir Dawid.
Wanneer ek oor van die verlossingsverhale in die Bybel nadink is dit verhale van God se almag, maar Berkhof laat my dieper kyk en help my om God se weerlose oormag raak te sien.
Hoeveel keer langs die pad deur die woestyn kon Hy, moes Hy, eintlik die israeliete wat so gemurmureer het, vernietig het? Hulle het dit verdien. Tog bly Hy geduldig, verdra Hy hulle, vergewe Hy hulle.
Dit is vir my moeilik om die regte woord te kry vir God se liefdevolle almag. Dalk is dit genoeg om te sê: Ek glo in God die Vader die Almagtige...