“U is waarlik die Seun van God”
Wessel het my voorgestel aan voëlkyk. Hy was Tannie Marthie en oom Helgard se kleinseun. Terwyl sy pa op die parlementêre span gedien het, het hy by sy oupa en ouma gebly. Vrydagmiddae na skool het hy my verskillende voëls in die voëlboeke gewys wat in ons omgewing voorgekom het. Hy het my ook hulle regte name geleer. ‘n Bottergat was toe altyd ‘n tiptol en ‘n mossie ‘n huismossie.
Matteus vertel in hoofstuk 14 dat Jesus se dissipels voor Hom neergebuig het en verklaar het “U is waarlik die Seun van God”.
As ‘n mens die nuutste voëlboeke aanskaf, is daar allerhande hulpmiddels wat jou help om voëls te identifiseer. Dit is selfs moontlik om toepassings op jou foon af te laai. Nie net word jy gehelp met foto’s en sketse van voëls nie, maar selfs die voëlgeluide is op die toepassings aflaaibaar. Die nuutste aanbod is dat jy kan aanteken op ‘n toepassing wat jou help om ‘n voël te identifiseer as jy ‘n foto of ‘n klankgreep op die toepassing kan oplaai.
Die dissipels was nie ooggetuies van Jesus se doop of sy onderonsie met die duiwel toe hy Hom versoek het nie. Hulle kon dus nie weet wat die Stem uit die hemel gesê het of die duiwel se vrae aan Hom nie. Hulle het wel verskeie van Jesus se wonderwerke gesien en hulle het Hom praat. Hulle moes besef dat Hy ‘n besondere leermeester was. Ek vermoed hulle moes ook Jesus se gesprek met Johannes se dissipels gehoor het toe Hy hulle geantwoord het dat dowes hoor, blindes sien, siekes word genees en dooies word uit die dood opgewek. Hy is die een wat Johannes verwag het.
En nou het hulle pas gesien hoe Jesus ‘n skare kos gee met vyf broodjies en twee vissies. En dan is hulle die nag in ‘n boot op die see. Jesus is nie by hulle nie. As die golwe van die stormagtige See van Galilea die boot begin skud, is hulle bang. Jesus kom na hulle toe aangeloop. En dan skrik hulle. Hulle dink Hy is ‘n spook. Maar dan as Hy Petrus red wat ook soos Hy op die water wil loop, dan herken hulle Hom. Dan weet hulle: “Dit is Jesus!”
En dan buig hulle voor Hom neer en verklaar: “U is waarlik die Seun van God”.
Dit is een ding om te weet dat Jesus Homself bekend maak. Dit is ‘n ander om te glo dat Hy die Seun van God is. Om te bely dat Hy die Seun van God is en voor Hom neer te kniel en Hom te aanbid, is wanneer dit nie net insink in jou lewe nie, maar jou lewe verander.
Wessel is die oorsaak dat ek my verkyker in die voorportaal of studeerkamer hou. As ek ‘n voëltjie in die tuin sien, wil ek dit van naderby beskou, al is dit ‘n huismossie. Ek wil presies weet watter soort voëls in my tuin voorkom. Ek wil my verkyk aan al die detail van hulle vere, hul maniertjies en gedrag. Ek luister na hulle liedjies.
Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n spook en die Seun van God. Dit het te doen met herken en erken. Dit het te doen met identifiseer en definieer.
As ek bely dat Jesus die Seun van God is, herken ek Hom nie net nie. Ek erken dat Hy self God is. Ek wil my in dankbaarheid verstom oor wie en wat Hy is en die feit dat Hy oor my besorgd is.