Boodskap - 7 November 2011

230 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Nov 7, 2011, 1:35:33 AM11/7/11
to pad...@googlegroups.com, asko...@ngkhoeveld.co.za

“Arende vang nie vlieë nie”

 

As jy die spreekwoord ken, ken jy moontlik Latyn of ken jy iemand wat Latyn ken. Dié spreekwoord beteken dat ’n mens jou nie met kleinighede besig hou nie. Op ’n manier kan ’n mens sê dat die Engelse spreekwoord “small things amuse small minds” dalk op dieselfde neerkom.

 

Vanoggend toe ek besig is met die daaglikse roetine na ek opgestaan het – stort, pap maak, gereed maak vir die dag – hoor ek op die agtergrond iets wat nie vir my pas nie: die geskree van ’n dikkop. Nader ondersoek het aan die lig gebring dat daar drie van hulle aan die bokant van die erf staan. Nou vir dié paar wat nie weet nie, ’n dikkop is ’n voël wat net ’n bietjie groter is as ’n kiewiet, en hy is gewoonweg in die nag aktief – in elk geval hier in my omgewing. Nou net om jou op hoogte te bring, ek staan eintlik nie in die nag op en maak gereed vir die dag nie. Die son is darem gewoonlik aan die opkom as ek opstaan. My eerste vraag was, wat maak die dikkoppe op die werf dié tyd van die dag.  Ek het selfs gedink dat ek miskien êrens in ’n voëlboek moet gaan kyk oor die gedrag van die dikkop. Dalk sal dit my help om te verstaan wat maak hulle op die werf.

 

Vreemd hoe ’n klein dingetjie soos dié my aan die dink gesit het.

Soms bekommer ons ons so oor klein dingetjies. Iemand het iets gesê en ek het dit as kwetsend beleef net om later uit te vind nadat ek ure en dae daaroor gedink het, dat dit nooit op my bedoel was nie. Ek het my aan ’n klein dingetjie gesteur en my hele lewe daaroor omgekrap.

 

Natuurlik is klein dingetjies soms belangrik, dit hang af hoe groot jou lewe is. As jou lewe en die dinge waarby jy belang het klein is, sal dinge wat vir ander klein wees, dalk vir jou groter wees.  Byvoorbeeld: as jy twee potlode het en ek leen een by jou en gee dit nie vir jou terug nie, sal die klein dingetjie vir jou belangriker wees as wanneer jy honderd potlode in jou kas het. Dit kan my dalk nooit eers pla nie.

 

Ek hou van die spreekwoord: arende vang nie vlieë nie. Vanuit my perspektief dink ek dat ’n arend bo die omstandighede kan uitstyg en die groot sake kan raaksien. Die spreekwoord herinner my daaraan dat ek wanneer dinge met my gebeur dit binne die groot raamwerk moet raaksien. Hou ek my dalk met ’n vlieg besig?

 

Tog is daar ook ’n ander spreekwoord “the devil is in the detail”. Soos ek dit verstaan beteken dit dat ’n mens nie net die groot dinge moet raaksien nie, maar dat daar soms fout kan kom omdat jy nie genoeg aandag aan die klein dingetjies gegee het nie. Dit lyk my dus dat daar tog ’n balans moet wees.

 

In my nadenke het ek aan ’n paar teksverse gedink.

·         Jesus se opmerking oor die splinter wat jy in jou broer se oog raaksien, maar die balk wat jy in jou  eie oog miskyk.  Dit lyk my dat Jesus sê dat ons soms die klein dingetjies raaksien en die groot dinge in ons eie lewens miskyk. Ons bekommer ons oor klein foutjies by ander maar mis ons eie groot foute.

·         Jesus wat sê dat ons ons vir die koninkryk van die hemel (God) moet beywer en al die ander dinge sal die Vader vir ons gee. Ons vergeet dat God se sorg vir ons groter is as die klein dingetjies waarvoor ons kan sorg en ons gehoorsaamheid aan Hom behoort belangriker te wees as ons bekommernis oor onsself. Hy sorg in elk geval!

 

Here, ek bid dat ek vandag my aandag sal vestig op U koninkryk en U sal vertrou om my te wys watter klein dingetjies belangrik is.

 

 

 

 

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages