"Hulle sal Hom Immanuel noem".
Dit is Matteus se kommentaar op Josef se droom waarin 'n engel vir hom vertel dat Maria se swangerskap van God af is. Dié kind wat gebore sal word, sal "Sy volk van hulle sondes verlos".
Die gebeure rondom Jesaja se profesie oor Immanuel waarna Matteus se kommentaar verwys, word in Jesaja 7 en 8 vertel. Sy seun Sjear-jasjoeb gaan saam wanneer hy met Agas gaan praat. As Agas nie 'n teken van die Here wil vra nie, gee Hy wel vir hom 'n teken: 'n vrou sal swanger word en 'n kind in die wêreld bring. Die kind is Immanuel "God met ons". Kort daarna word Jesaja se vrou weer swanger. Wanneer die seuntjie gebore word, word hy Maher-sjalal-gasj-baz genoem.
Die dreigende konflik met onder andere die Assiriërs, is die krisis waarmee Agas worstel, wanneer Jesaja hom by die watervoor ontmoet. Hy kan waarskynlik sy koningskap verloor. Sjear-jasjoeb se naam is onheilspellend. Dit beteken "'n Klein oorblyfsel sal terugkeer."
In Jesaja 8 word vertel dat die Assiriese aanslag wat Agas en sy bondgenote gevrees het, vinnig verby sou wees. Jesaja se seun, Maher-sjalal-gasj-baz se naam is 'n teken daarvan: Vinnig buit, spoedig roof. Agas moes dit insien: God is teenwoordig self ten spyte van die konflik – persoonlik, nasionaal of internasionaal.
Die laaste Adventsgebed, dié een vir 23 Desember is waar John Mason Neale die eerste reël vir sy lied vandaan gekry het:
O Immanuel, ons Koning en Leidsman, Verwagting en Verlosser van die nasies,
Kom om ons te verlos, Here, ons God.
Soos die ander adventsgebede is ook die een saamgestel uit verskillende ander tekste. Die verwysing na Immanuel kom uit Jesaja 7:14 en Matteus 1:23. Die Latynse vertaling van Jesaja 33:22 noem die Here Regter, Leidsman en Koning en verklaar dat Hy ons verlos. Miskien is Thomas se belydenis – my Here en My God – in Johannes 20:28 die bron vir die laaste deel van die gebed.
Natuurlik kan 'n mens teoretiseer of redeneer oor die betekenis van Jesus se koms na die wêreld. Maar teorieë en redenasies verander nie die wêreld nie. Somtyds verander dit net die manier waarop ons na die wêreld of dinge kyk of daaroor dink.
In die laaste van die sewe gebede bid ons nie vir 'n ander teorie of redenasie nie, maar vir 'n belewenis. Ons bid dat Immanuel moet kom om ons te verlos. Ons wil Jesus se koms en teenwoordigheid in ons lewens ervaar. Ons wil Sy aanwesigheid by ons ervaar en beleef.
Mag dit jou belewenis wees dat God met jou is en altyd by jou sal bly.