Ek glo in God die Skepper – persoonlik
My ma was lief om tapisserieë uit te werk.
Tapisseriewerk is noukeurige werk. Met fyner gaas en garing is die werk ‘n fyn werk. Klein stekies. Detail. Jy kan nie een oorslaan nie. Hoe dikker die gare en wol is, hoe makliker en minder fyn die werk.
Ek het ‘n paar keer by die Woolden vir my ma ‘n tapisserie gekoop en ook die garing of die wol. As dit ‘n gedrukte gaas was, was daar ook ‘n lysie met die nommers van die garing of die wol. Natuurlik kon jy ook skoon gaas koop en jou eie prent daarop uitmerk, die kleure kies.
Om die voorkant mooi te laat vertoon moes al die steke dieselfde gewerk word. Die agterkant kon minder afgewerk wees. Maar nie vir perfeksioniste nie. Die rugkant moet sonder los drade wees, netjies.
My ma is jare nie meer met ons nie, maar heelwat van haar tapisserieë is nog tussen ons.
Die woorde in Psalm 139 waarin die digter die Here se intieme kennis van hom beskryf, is vir my nogal treffend. Die 1983-vertaling verklaar so mooi “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder...”
Die Here God as skepper is ‘n kunstenaar. Hy is ‘n pottebakker. Hy weef.
Dieselfde idee oor God wat individue skep en vorm, kom voor in die bekende Jesaja 43:1
“Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.”
Die profeet is egter besig om die boodskap aan ‘n groep te rig.
Die punt bly egter dieselfde. Daar is iets intiems daaraan dat die Here God met ‘n mens te doen het voor sy geboorte, in die embrionale situasie.
Job gryp hierdie intieme verbintenis met God aan wanneer hy met sy lyding en swaarkry worstel en wonder waarom dit nie nou die Here dryf om juis in sy guns in te gryp nie.
“Ek glo in God ... die skepper” is lyk my meer as om net ‘n algemene verklaring oor die Here God en my geloof in Hom te maak. Dit is om te verklaar dat daar ‘n intieme verhouding, ‘n band tussen Hom en my bestaan. Die verhouding Skepper-geskapene.
Hoe meer ek van myself, wie en wat ek is, ontdek, hoe meer is ek soos die digter van Psalm 139 met verwondering vervul.
Elke mens is ‘n kunswerk. Die Here God het ons gevorm, ons aanmekaar geweef.