629 - Ek glo in God, die Ambagsman-Skepper

0 views
Skip to first unread message

Hannes Windell

unread,
Oct 9, 2024, 11:36:53 PM10/9/24
to Padkos

Ek glo in God, die Ambagsman-Skepper

Die Katalaanse argitek en boumeester Antoni Gaudi is in 1926 oorlede. Sy groot projek wat in 1882 begin is, die La Sagrada Familia behoort in 2026 klaar te wees. ‘n Honderd jaar na sy dood. Die Katedraal in Barcelona Spanje is verskeie jare gelede tot Wêreld-erfenisterrein verklaar. Hoewel Gaudi betrokke was by die ontwerp van die Katedraal, het hy later tot met sy dood betrokke gebly en as boumeester groot werk gedoen.

Ek dink die beeld dat God as Skepper ‘n ambagsman is, kom in baie tekste in die Psalms, Spreuke en Jesaja voor. Gaan blaai gerus ‘n bietjie daar rond en kyk of jy nie ook lees dat God se aarde se fondamente gelê het. Hier en daar is daar ook ander beskrywings van hoe die Here God by die bou van die skepping betrokke is.

Een so teks is Jesaja 48:13: “Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei: Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom.

Jesaja 40 het sulke mooi slotverse: “Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

As ‘n mens egter vroeër in Jesaja 40 lees hoor jy hoe die profeet die Here as ‘n ambagsman beskryf wat die waters afmeet, die berge op ‘n skaal sit. Hy weeg selfs die grond af. Hy meet die hemel af met die breedte van sy hand.

In Jesaja 40 word die feit dat die Here God die skepper is, gebruik om die gelowiges te herinner dat Hy nie moeg raak en afgemat word nie. Hy het hulle nie vergeet nie. Hy onthou hulle, Hy dink aan hulle, al dink hulle nie so nie. Hy is steeds daar om hulle krag te gee. Hulle kan voortgaan met die lewe.

In Jesaja 48 gebruik die Here die uitspraak dat Hy die skepper is en soos ‘n ambagsman die fondamente gelê het as basis om te sê dat Hy ook die Eerste en die Laaste is. Daar vestig dit hulle aandag op die toekoms. Hoewel hulle in die verstardheid van die hede mag vaskyk, gee die feit dat God se skepper is, die moontlikheid dat daar ‘n toekoms is.

Een van die uitsprake van Antoni Gaudi oor die voltooiing van die katedraal is vir my interessant. Hy het gesê “My opdraggewer is nie haastig nie.”

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages