Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep...
Izak de Villiers se gedig “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” was ‘n lied wat gewild was om tydens begrafnisse te sing. Ek dink die Oorwinningslied is nou die gewildste. Ek sal nogal wil weet waarom.
Ongeveer ses eeue voor Johannes in Openbaring die woorde geskryf het wat Izak de Villiers se gedig geïnspireer het, is die boodskap van die Here in Jesaja 65:17 uitgespreek. Hy verklaar “Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep...”
Die idee dat die Here God iets nuuts kan doen, is vroeër ook uitgespreek. Reeds sover terug as Jesaja 43:18 hoor ons hoe die Here die volk vra om nie net aan die vroeëre dinge te dink nie. Hulle moenie net daarby stilstaan nie, want Hy gaan iets nuuts doen. En die nuwe dinge wat Hy beplan om te doen, staan gereed om te gebeur.
Ja, inderdaad. Die Here is die God wat eeue te vore ‘n pad vir Israel deur die Rietsee gemaak het sodat hulle droogvoets daar kon deur. Die Egiptenaars het in die see verdrink en hulle strydwaens vergaan. Maar nou gaan die Here iets nuuts doen.
Die Hebreeuse woord wat gebruik word om te vertel dat die Here God skep kom 11 keer in Genesis voor. Dit word ook in die Psalms gebruik. Van al die boeke in die Ou Testament kom dit egter die meeste keer voor in Jesaja. Veral in Jesaja 40-66.
In Jesaja 45 hoor ons die Here God praat. Hy verwys Hy na Homself as die skepper van die hemel en die aarde. Wat Hy daar beskryf en met wie Hy in gesprek is, het eintlik te make met die nuwe dinge waarmee Hy besig is. Hy praat met Kores. Hy het hom aangestel as koning oor Persië. Hy regeer sodat hy israel kan terugstuur na judea sodat Jerusalem herbou kan word.
Heelwat nuwe dinge moet gebeur om God se plan moontlik te maak.
Die hoogtepunt van die nuwe dinge wat die Here God doen, is egter die aankondiging in Jesaja 65:17: “Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep...”
Gaan lees gerus hoe wonderlik die nuwe hemel en die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem gaan wees.
Jesus se koms na die aarde hou nie net in dat Hy ons kom verlos nie. Jesus se koms het ook meegebring dat ons anders moet kyk na die skepping. Dit is nie sonder rede dat Paulus in 2 Korintiërs 5:17 verklaar dat iemand wat aan Christus behoort ‘n nuwe skepping is nie. So ‘n mens in ‘n nuwe mens. Die oue is verby. Die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God.
Maar dit hou nie daar op nie. In die boek Openbaring lees ons hoe die Here ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep en ‘n nuwe Jerusalem.
Dit klink my al dat as ek sê “Ek glo in God die skepper van die hemel en die aarde” moet ek ook by-dink “die skepper van die nuwe hemel en die nuwe aarde