Die Here God het ‘n tuin aangeplant
Ek glo in God die skepper, die Een wat met grond werk, die tuinier.
Soms as ek oor die tweede skeppingsverhaal in Genesis nadink, die een in Genesis 2, wonder ek of dit werklik ‘n skeppingsverhaal is. Is dit nie dalk net ‘n vertelling om die toneel te skets vir die gebeure van die mens se eerste opstand teen die Here God nie?
Terwyl ek nadink oor God as skepper, gaan ek dit tog neem as nog ‘n skeppingsverhaal.
Die kronologie daarvan verwar my ‘n bietjie. Dit verskil radikaal van Genesis se patroon van 7 dae.
Kyk net hoe dit begin. Toe die Here God die hemel en die aarde gemaak het, was daar nog nie struike of gewasse op die land nie omdat dit nog nie gereën het nie. As ‘n mens die gedeelte verder lees, kom jy agter dat daar niks anders was. Nie diere nie, nie voëls nie, nie mense nie.
Daar was wel water wat uit die grond geborrel het omdat ‘n ondergrondse stroom water gegee het om die grond nat te maak.
En dan kom die Here God, die Een wat met klei kan werk. Hy vorm die mens uit die grond en blaas lewensasem in hom in.
En dan kom die Here God, die Tuinier. Hy plant ‘n tuin. Daar was nie kwekery nie. Hy laat bome uitspruit wat mooi is om na te kyk en goeie vrugte lewer om van te eet. Gewoonlik neem bome tyd om bekwaam te raak en vrugte te dra. Aan die begin gebeur alles in ‘n oogwink.
Gelykertyd plant die Here God ook bome wat ‘n uitdaging en ‘n seën kan wees. Die boom van die lewe is die seën. Die boom van die kennis van goed en kwaad die uitdaging.
Die Here God het ook gesorg dat daar ‘n rivier was om die tuin nat te lei.
As alles reg is, neem die Here God die mens na die tuin om dit te bewerk en op te pas. Daar is egter een groot probleem. Die mens is alleen.
En dan kom die Here God, die een wat met klei werk. Hy maak die diere van die veld en die voëls van die hemel.
Sien jy ook dat die kronologie van die tweede verhaal anders as die eerste verhaal s’n? Die mens is volgens Genesis 1 op die sesde dag gemaak. Die voëls op die vyfde dag. Die diere van die veld ook op die sesde dag.
Maak die verskillende kronologieë saak? Ek dink nie so nie. Dit verander niks aan die beginsel dat die Here God die skepper is nie. Dit is die kernwaarheid: ek glo in God die skepper van die hemel en die aarde.
‘n Ander skeppingsverhaal verryk my siening oor God as die skepper. Hy kan ‘n pottebakker wees. Of ‘n tuinier. Hy kan sy tyd neem. Hy is die Here God.
Maar die Here God het gesien dat die mens nie vir hom ‘n helper ‘n gelyke gekry het onder die diere of die voëls nie. Dan kom die Here die sjirurg en die skepper. Hy neem ‘n ribbebeen uit die mens en Hy maak die vrou en bring haar na die mens.
Die Here God maak met die skeppingsverhaal iets anders duidelik oor Homself in verhouding met die mens en die skepping as Genesis 1 se verhaal. Ordelikheid en tyd is minder belangrik in Genesis 2 as in Genesis 1. In Genesis 2 vorm die Here God die mens as werker en bewaarder. Hy plant ‘n tuin aan vir die mens om in te woon. Hy vorm diere, voëls en ‘n helper vir die mens.
Ek glo in God die Skepper van die hemel en die aarde sê baie oor die Here God, maar dit sê ook iets van my. Ek is ‘n geskapene. Ek is ‘n mens met ‘n taak. Ek is ‘n mens in verskillende verhoudings: met mense, met diere, met die natuur.