Gereformeerde Kerk Meyerspark, Pretoria

51 views
Skip to first unread message

Pierre Cronje

unread,
Feb 15, 2007, 3:34:18 PM2/15/07
to orr...@googlegroups.com
Hallo almal
 
Johan het my gevra om iets met julle te deel oor die orrel in die Gereformeerde Kerk Meyerspark, Pretoria, waar ek tans orrelis is.
 
Die orrel is in 1976 opgerig deur die Suid-Afrikaanse Orrelbouers (SAOB). Prof. Stefanus Zondach was die adviseur en Meneer Rooth het die intonasie behartig. Prof. Wim Viljoen was die orrelis tydens die inwydingskonsert.
 
Oorspronklik is daar plek gemaak vir die orrel aan die noordekant van die kerk, links van die preekstoel. Prof. Zondach het egter vanuit 'n akoestiese oogpunt voorgestel dat dit eerder aan die suidekant opgerig moet word. Die rede daarvoor was dat die orrel nie direk tot die diakensbanke (of dan die diakens in die diakensbanke) sou spreek as dit voor in die kerk staan nie, aangesien dié banke aan die regterkant van die preekstoel staan, dus parallel met die orrel. Nou spreek die orrel tot die hele gemeente.
 
Nog 'n voordeel van die huidige plasing is die hoogte van die pype. Die speeltafel staan links agter in die kerk en die pype aan die linkerkant bo die speeltafel, effens (om en by een meter) op 'n sementblad uitgebou uit die orrelkamer, sodat 'n langerige persoon gemaklik daaronder kan deurloop. Gelukkig het die kerkgebou ook 'n redelike hoë dak, wat die akoestiek verbeter.
 
Uit die oorspronklike spesifikasie van die SAOB kan 'n mens aflei dat die orrel (voor in die kerk) op die grond sou staan, aangesien  die lys van toebehore soos volg lui: "Sweltree wat swelkas vir Manuaal II Meganies beheer."
 
Wat interessant is is die destydse koste in vergelyking met vandag se versekerde bedrag. Volgens die koopooreenkoms het die orrel R27 255.00 gekos, wat oprigting ingesluit het. Volgens die SAOB se Sertifikaat vir Assuransiedoeleindes gedateer 6 Mei 2005 dui hulle die versekerde bedrag aan as R1 210 000.00. Wie het gesê 'n goeie pyporrel is nie 'n goeie belegging nie? Dit laat my wonder of mense aan 'n pyporrel as 'n belegging dink?
 
Die aksie is elektries met sleeplaaie en die disposisie soos volg:
 
Pedaal: Subbas 16', Oktaaf 8', Gedek 8', Koraalbas 4', Gedekfluit 4', Mikstuur 5 sterk, Basuin 16', Skalmei 4'
Manuaal I: Prinsipaal 8', Roerfluit 8', Oktaaf 4', Spitsfluit 4', Oktaaf 2', Kwint 2 2/3', Terts 1 3/5', Mikstuur 4-5 sterk, Trompet 8'
Manuaal II: Gedek 8', Prinsipaal 4', Roerfluit 4', Gemshoorn 2', Kwint 1 1/3', Skerp 3 sterk, Kromhoring 8', Tremulant
Koppelaars: II/I, I/P, II/P
 
Die fluit- (16', 8' en 4') en prestantregisters (8' en 4') op die Pedaalwerk is 'n eenheid. So gedoen waarskynlik om plek te bespaar. Die ander registers is almal selfstandig.
 
En dit is wat ek het om met julle te deel. Johan, dankie dat jy die gespreksgroep begin het en aan die gang hou, dankie vir almal wat deelneem. Ons kan so baie by mekaar leer, of hoe?
 
Orrelgroete vanuit Pretoria
Pierre Cronje
 

Johan D. Strydom

unread,
Feb 15, 2007, 3:54:30 PM2/15/07
to orr...@googlegroups.com
Dankie Pierre vir jou bydrae.  Pos asseblief tog vir ons 'n foto as jy het van jou orrel.  Dit is altyd interessant om na die fronte te kyk.
 
Self het ek al by geleentheid afgelos in Meyerspark, en het die orrel as 'n baie aangename instrument gevind, en reken dat dit ook 'n uiters betroubare instrument moet wees.
Rakende die koopsom van R 27 000, en die Sertifikaat vir Assuransiedoeleindes net die volgende:  ek dink mens moet in gedagte hou dat die versekerde bedrag waarskynlik verwys na 'n vervangingswaarde van die instrument.  Ongelukkig sal mens nie R1 210 000 daarvoor kry as mens dit van die hand moet sit nie, of hoe? 
 
Terloops, hoe werk dit in julle gemeentes met die ontvang van die liturgie vir 'n Sondag?  Ek het al baie onaangename ervarings gehad in die verband, maar by my huidige gemeente is ek in 'n baie bevoorregde posisie.  Die liturgie word nie later as Woensdag aan my gestuur nie.  Ek kan dan, na aanleiding daarvan, die voorsang deeglik beplan vir die Sondag.  Indien daar 'n onbekende lied is, kan die Sanggroep dit op Donderdagaande oefen, en leiding neem tydens die sangoefening voor die diens.  Ons het 'n bord met een van daardie spoggerige projektors (deur 'n gemeentelid geskenk), en my ervaring was dat dit baie positief bygedra het tot gemeentesang.  Ons het voorheen 'n flitsbord gehad wat slegs die woorde vertoon het, en met die nuwe toerusting, kan die gemeente nou ook die notasie sien.
 
Beste wense, en sterkte met die voorbereiding vir eerskomende Sondag.
 
jds


From: orr...@googlegroups.com [mailto:orr...@googlegroups.com] On Behalf Of Pierre Cronje
Sent: 15 February 2007 10:34 PM
To: orr...@googlegroups.com
Subject: [Orrelis] Gereformeerde Kerk Meyerspark, Pretoria

Christiaan Carstens

unread,
Feb 16, 2007, 3:35:49 AM2/16/07
to orr...@googlegroups.com

Hallo Almal

Johan jy verwys na die weeklikse liturgiebeplanning in gemeentes en die dikwels onaangename ervarings daaraan verbonde.

Nou moet ek vir julle eerlik sê: by ons in die gemeente is daar nie sprake dat die liedere (en dalk 'n oorsig van die preekteks) op 'n Woensdag/Donderdag by my sal wees nie. My predikante is bederf en ek het dit al meermale vir hulle gesê en ons is nog steeds BAIE lief vir mekaar! In my jongdae sou die toedrag van sake my vreeslik ontstel het, want hoe berei jy nou mooi voorspele voor vir sinvolle aanbieding in die verloop van 'n erediens? Dit is waar die waarde van improvisasie inkom. Ek het uit nood uit begin improviseer. Die baie goeie boek van die Amerikaner Gerre Hancock staan op my rak, heelwat improvisasie-CD's (op orrels in Frankryk, Nederland en ter plaatse) is aangekoop deur die jare, allerlei artikels is versamel en toe spring ek in en swem dat dit bars! Nou na 14 jaar is dit die heerlikste ding op aarde om 'n Sondag vir die erediens te speel sonder om vir die predikant te gluur!

Wat die voorafsang betref: ons gebruik die woord "lofprysing" en deur die jare het ek uitgewerkte "lofprysings" op die rekenaar gesit. Dit pas mooi aan by die kerkjaar en dit gebeur min dat ek 'n lied moet uitlaat omdat dit oorvleuel met die liedere wat tydens die diens gesing sal word. Ag, dan gebeur dit ook dikwels dat die dominee in 'n onbewaakte oomblik my inlaat by sy beplanning vir 'n Sondag en dan "stoor" ons dit in die brein en Sondag is ek so op die bol -- jy kan dit nie glo nie.

Nou moet ek ook sê dat predikante dikwels regtig die wêreld vir orreliste moeilik maak. Ek het juis so 'n vriendin wat al haar dae gehad het, geen ondersteuning gekry het nie ten spyte van goeie werk, uiteindelik onder 'n "direkteur van musiek" moes dien wat geen sout of water van kerkmusiek geweet het nie, 'n "band" aan die gang gekry het ens. Die uiteinde van die storie is dit die direkteur ook die nuwe elektroniese toerusting vir die voorafsang gereël het (ten duurste by sy goeie vriend) en met die installasie binne-in die orrelkas in is (lekker gate geboor in die orrelkas om drade deur te kry) en die houtsaagsels en stof net so gelos het oor die speeltafel heen. En toe wil die nuwe Solid State nie meer werk nie. Sy het bedank! Nou vriende, ek hoop ons bly dit gespaar. Vir sover as wat dit moontlik is, moet ons goeie verhoudings met die predikante opbou en hulle laat verstaan dat ons aan hulle kant is -- ons bydrae tot die erediens is net so belangrik.

Volgende keer sal ek julle vertel hoe ek en my "priesters" spesiale dienste in die verlede aangepak het.

Groetnis en trap daai "pedals"!

Christiaan

Johan D. Strydom

unread,
Feb 16, 2007, 11:56:17 AM2/16/07
to orr...@googlegroups.com
Hallo Cassie (en al die ander)

Improvisasie is inderdaad 'n baie handige hulpmiddel vir ons orreliste. Net
soos jy is ek ook maar diepkant ingegooi, en moes maar verwoed leer swem.
In my geval was improvisasie iets wat ek moes oefen, en dan is daar
natuurlik nog die vertroue in jouself om voor die kerk te gaan sit en 'n
improvisasie op 'n kerklied te doen. Improvisasie is steeds iets wat ek
redelik baie gebruik. Toe ek by die NG Gemeente, Suider-Paarl orrelis was,
was ek ook in die bevoorregde situasie om 'n orrelliefhebber as predikant te
hê. Die oggenddienste was altyd tot op die punt uitgewerk en gestruktureer,
maar die aanddienste was ons intellektuele "speeltyd". Die aanddienste het
gewoonlik die vorm aangeneem van besprekings, en vrae kon uit die gemeente
gestel word. Daar was dus nooit 'n vaste liturgie en/of tema nie. As die
gesprek rigting begin vat het, het ek solank begin dink aan 'n slotlied wat
die bespreking mooi sou saamvat. Onder kollekte sou ek dan 'n improvisasie
op die spesifieke lied doen - partykeer baie verbloem! Die ds. sou dan die
lied identifiseer, en telke male sou ons dan van vooraf weer 'n bespreking
gehad het oor die lied wat gekies het nadat kollekte opgeneem is. Vir hom
was my improvisasie 'n aanduiding van hoe ek as individu die bespreking
begryp het. Dit was goeie dae, en het my baie op my tone gehou!


Almal is egter nie bewese genoeg om improvisasie aan te pak nie. Hier is my
scenario:
Tannie Tolie is orrelis in die plaaslike gemeente op Napier. Sy het geen
"formele" opleiding nie, en het slegs klavier as stopvak gedoen toe sy haar
onderwysdiploma gedoen het. Sy is met 'n boer getroud in die distrik van
Napier en het op 'n plaas gaan woon. As daar een ding was wat tant Tolie
nie kon doen nie, was dit om koek te bak, en die sustersvereniging het
eerder met 'n leë koektafel gesit as wat hulle ant Tolie moes vra om haar
Death by Chocolate koek te bak - hulle was helaas te bang dat die naam van
die koek dalk bewaarheid kon word!
Ant Tolie het sleg gevoel, want sy wou iets vir die kerk gee, en het daarom
maar ingewillig om met haar stopvak-klavier-kwalifikasie die orrel te
bespeel. Maar nadat die trekker in haar hoenderhok ingejaag het op die
plaas, het sy ietwat van 'n senuweeprobleem ontwikkel. Die Xanors wou ook
nie eers meer hulle ding doen nie, maar speel wou ant Tolie speel. En speel
MOES ant Tolie speel. Daar was egter een probleem: ant Tolie MOES oefen.
Selfs ou Gesang 10 was vir haar 'n uitdaging. En die predikant wou nooit
die liedere vir ant Tolie gee nie.

Goed, goed! Grappies op 'n stokkie, en ek weet ek maak die pap te dik aan.
Maar verstaan jy my punt? Vir jou en vir my is dit waarskynlik geen kuns om
die LvdK van voor tot agter deur te speel nie, en dan kan ons sommer nog op
die ingewing van die oomblik 'n kreatiewe inleiding uittoor en 'n mooi
modulerende passasie tussen die verse speel (want die mense hou tog so
daarvan as ons modulate!), maar ant Tolie kan nie. Sy MOET oefen om die
koraal te speel, en op 'n goeie dag sal sy miskien die eerste en laaste maat
van die koraal as inleiding gebruik (ander kere gee sy net die noot). My
vraag dus: moet tant Tolie se gemeentelede, dit nadat hulle klaar nie van
haar gebak hou nie, en nadat sy slegs 'n stopvak-klavier-kwalifikasie het,
en nadat sy dit verniet doen want dit is haar tiende, steeds so blootgestel
word deur 'n predikant wat nie wil saamwerk nie?

Goed, dit is vergesogd, ek weet! En ek weet ek laat nou predikate soos
buffels klink. Baie keer is swak sangbegeleiding 100% die skuld van die
orrelis wat net eenvoudig niks doen nie. Verder: miskien is die predikant
nie eens bewus dat die orrelis so 'n intense behoefte het om die liedere te
oefen nie. Sang is 'n onderdeel van die diens - nie slegs 'n ou liedjie wat
gesing moet word om die diens 'n uur vol te maak nie. Daarom is dit my
gevoel dat,indien daar 'n ant Tolie is, sy dit dan onder die predikant se
aandag moet bring. Die een is afhanklik van die ander!

(As ons weer kuier, moet jy my bietjie daai boek van Gerre Hancock wys)

-----Original Message-----
From: orr...@googlegroups.com [mailto:orr...@googlegroups.com] On Behalf

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages