Beste wense vir 2009! Hou ons asseblief op hoogte wat in julle onderskeie gemeentes gebeur, en stuur gerus nuus aan wat jy van mening is ons hier sal interesseer.
Groete,
Johan Strydom
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2448527,00.html
Gesange 'n turksvy op Doppers se feessinode
Jan 04 2009
09:16:04:583PM - (SA)
Neels Jackson
njac...@beeld.comNá 150 jaar gaan die sing van gesange vanjaar op die feessinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) weer ’n belangrike kwessie wees.
Die oudste gemeente van die GKSA is op Februarie 1859 onder ’n seringboom in Rustenburg gestig.
Een van die belangrike kwessies in die aanloop tot die stigting was ’n kerklike twis oor die sing van gesange.
Die Gereformeerde Kerke, of Doppers, het besluit om op die spoor van die Dordtse sinode van 1618 slegs Psalms en enkele direkte berymings van ander Skrifgedeeltes te sing.
Later het ander liedere waarvan die teks direk uit die Bybel berym is, bygekom.
Nou, op die 150-jarige feessinode wat vandag in Potchefstroom begin, kom die situasie opnuut onder die loep.
Eintlik is dit al die laaste paar sinodes op die tafel, maar op die vorige sinode kon die saak weens tyddruk nie afgehandel word nie.
Die kerkorde bepaal tans dat slegs die psalms en ander Skrifberymings wat deur die sinode goedgekeur is, gesing mag word.
Binne die kerkverband loop die menings egter wyd uiteen.
Aan die heel konserwatiewe kant is daar diegene wat meen slegs psalms behoort gesing te word.
Ander is tevrede met die huidige bedeling.
Dan is daar ook diegene wat voel dat ander liedere wat getrou is aan die Bybelse boodskap toegelaat moet word, al kom die woorde nie regstreeks daaruit nie.
Dan is daar gemeentes wat hulle in elk geval nie aan huidige voorskrifte steur nie en sing wat hulle wil.
Dis ook ’n ope vraag of die liedere wat gesing word deur die swart gemeentes wat nou vir die eerste keer op die sinode verteenwoordig word, aan die voorskrifte voldoen.
Teenstanders van die sogenaamde “vrye” of “evangeliese gesange” sê dit is deur dié soort liedere dat allerlei onbybelse en ongereformeerde sieninge die kerk ingesing word.
Hulle voer ook aan dat dit in die geskiedenis telkens gebeur het dat kerke wat sulke liedere sing, mettertyd al hoe minder psalms sing totdat dié Bybelse liedereskat in die vergetelheid beland.
Hierteenoor voer voorstanders van ’n ruimer liedereskat onder meer aan dat daar ’n groot behoefte is aan liedere met ’n direkte Nuwe-Testamentiese inslag.
Dit sluit in Paasliedere oor die opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Ander kwessies wat warm debatte kan uitlok, is die toelating van vroue tot die diaken- en moontlik ook ouderlinge- en predikantsamp, en die toelating van die nuwe Afrikaanse Psalmomdigting.
Die sinodesitting duur twee weke.