Aardklop: Zorada het groot piep in haar pype
Sep 26 2007 09:46:35:520PM - (SA)
Marga Ley
Zorada Temmingh se “mede-hoofster” se een pyp het ’n probleem – sodra sy hom druk, skreeu hy.
As die pyp nie gefieks kan word nie, gaan sy hom eenvoudig ignoreer. Want Zorada is ’n meester met improvisasie – en haar maat is ’n orrel.
Sy het die 1921 stil rolprent The Four Horsemen of the Apocolypse op die internet gekoop en gebruik dit nou as agtergrond waarteen sy met haar orrel improviseer – die orrel van die Gereformeerde Kerk-Noord.
Dit is die tweede improvisasiestuk op ’n ou-styl-rolprent wat Zorada doen. Die vorige was
“Dit is maar ’n meisie-orrel hierdie, hy’t nie regtig balls nie, maar hy doen goed, so ek gaan hom looi,” sê Zorada.
Four horsemen was die debuutrol van die legendariese Rudolph Valentino, hartebreker en sekssimbool van die 1920’s. Die vier perderuiters van Openbaring is in die rolprent die simbool van die verwoesting wat oorlog saai en dit wat oorlog aan die mensdom doen.
“Ek was aangegryp deur die situasie van oorlog. Ek het temas nodig om op te improviseer. Die temas storm nie soos perde op jou af nie, jy moet dit soek en ontwikkel. Daar is veral een toneel wat my amper elke keer in trane het.” Sy speel ’n stukkie. Selfs sonder die film kry ’n mens koue rillings.
Zorada het net een vertoning op Aardklop. Maar later vanjaar gaan sy dit in die VSA opvoer in kerke as deel van die herdenking van 9/11 en die anti-oorlogmotief van die werk. ’n Amerikaner wat in Suid-Afrika was, het haar CD met haar komposisie “9/11” gehoor.
Hy was aangegryp daardeur en nie lank daarna nie is Zorada genooi vir optredes.
Sy vertel toe sy tydens die uitvoering op Bloemfontein se Volksblad-fees wegtrek met haar spel, toe kom sy ná vyf minute agter die rolprent speel teen halfspoed. Sy besluit toe sy druk maar deur – toe vat dit twee en ’n half uur! “Ek was klaar! Op! Nooit weer nie!”
Daar word gewerk om die orrelpyp wat probleme gee te herstel, maar dit hou geen gevaar in vir die vertoning nie: sy kan sonder daai een pyp klaarkom.
The four horsemen of the apocalypse. R67. Vandag 17:00, Gereformeerde kerk Noord.