http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2453298,00.html
Lang debat oor liedere gaan voort
Jan 14 2009 10:11:20:810PM - (SA)
Neels Jackson
Potchefstroom. – Gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) wat meer liedere as Psalms en Skrifberymings wil sing, sal nog drie jaar moet wag om te sien of hulle die groen lig gaan kry.
Die algemene sinode van die GKSA het ’n besluit hieroor gister tot die volgende sinode van 2012 uitgestel.
Die kwessie van liedere waarvan die teks nie direk uit die Bybel berym is nie, was 150 jaar gelede ’n belangrike aanleidende oorsaak tot die stigting van die GKSA.
Dit was juis lidmate wat nie dié liedere wou sing nie, wat die GKSA gestig het.
Toe is besluit om op die spoor van die Dordtse kerkorde van 1618 slegs Psalms en vyf gespesifiseerde Skrifberymings in die GKSA te sing. Sedertdien is ook ander Skrifberymings en berymings van die belydenisskrifte toegelaat.
In 2003 het twee beswaarskrifte egter gevra Skrifgetroue liedere moet ook toegelaat word. Dit is liedere waarvan die teks nie direk uit die Bybel berym is nie, maar waarvan die inhoud met die breë boodskap van die Bybel klop. ’n Besluit hieroor is egter sedertdien van sinode na sinode uitgestel. In ’n lang debat waaraan 40 sprekers eergisteraand deelgeneem het, is verskeie argumente na weerskante toe aangevoer.
Teenstanders van die Skrifgetroue liedere was bang allerlei dwalinge kan met nuwe liedere by die kerk ingesing word. Daar was vrese dat die Psalms verdring gaan word en daar is gevoel nuwe liedere wat deur mense geskryf is, kan in elk geval nie op dieselfde peil wees as liedere waarvan God die teks vir die kerk in die Bybel gegee het nie.
Voorstanders van die nuwe liedere het gesê enige dwalinge kan gekeer word deur die liedere behoorlik te toets.
Daar is ook gesê daar is ’n groot behoefte aan sulke liedere by lidmate, onder meer omdat hulle direk oor hul Koning, Jesus Christus, wil sing, en nie via die “die newels van die Ou Testament” nie.
Daarby het die swart afgevaardigdes gevoel die Sionsgesange wat hulle sing, word deur die status quo in gedrang gebring. Van hulle het selfs gesê die nuwe kerkeenheid in die GKSA kan in gedrang kom as hulle van hul liedere moet afstand doen. Verskeie afgevaardigdes van buitelandse kerke het aan die sinode gesê hul kerke sing ook meer liedere as net Psalms en Skrifberymings.
Die sinode het egter nie kans gesien om nou ’n beginselbesluit te neem om die deur vir Skrifgetroue liedere oop te maak nie.
Daar is besluit om deputate aan te wys om ’n beginselraamwerk uit te werk aan die hand waarvan alle liedere gekeur kan word en om ’n herformulering van die betrokke kerkorde-artikel op te stel. Die volgende sinode moet dan daaroor besluit.
In ’n ander besluit het die sinode wel vyf nuwe berymings uit die Bybel en belydenisskrifte goedgekeur.