Geagte Kleingroep- en Bedieningsleier
Die Verhoudingsgroepe se bediening slaan ‘n nuwe koers in. Daar gaan gepoog word om voortdurend met die groepe in kontak te bly. Daarom vorm julle as Kleingroep- en Bedieningsleiers deel van ‘n databasis wat deur die kerkkantoor geadministrateer word.
Wanneer daar vanuit die kerkkantoor kontak gemaak word, vertrou ons dat jy hierdie inligting deur sal gee aan die groep waarin jy betrokke is. Daarom is dit vir ons belangrik om ons werkswyse vir hierdie bediening onder jou aandag te bring:
Kleingroepgidse
In die jare 2008-2010 het die leraarspan van NG Gemeente Florauna veeldoelige gidse geskryf en beskikbaar gestel aan die gemeente om lidmate te begelei om geestelik te groei. Dit is bestaande gidse wat reeds deur harde werk die lig gesien het. Daarom het ons dit goed gedink dat hierdie bestaande gidse, wat dan nou opgedeel is in weke, elektronies beskikbaar gestel word op die gemeente se webtuiste. Die behoefte sal ook soms bestaan dat die bestaande week se gedeelte dalk hersien moet word. Dan rus hierdie onus op Wynand Malan aan wie die taak toegeken is. Met ander woorde, op ‘n weeklikse basis, gedurende skoolkwartale word die gepaste weeklikse gedeelte op die gemeente se webtuiste geplaas, waar jy en jou groep dit kan aflaai en in julle byeenkomste kan gebruik as moontlike middel.
Met die bestaande gidse weer beskikbaar, hierdie keer voortdurend op die webtuiste, is dit so dat daar groepe en lidmate is wat nie die behoefte het om die bestaande gidse deur te werk nie. Daarom het ons dit goed gedink om op die gemeente webtuiste ‘n alternatiewe lys, bestaan uit ‘n verskeidenheid van gidse, weblinks, videos ens. beskikbaar te maak. Hierdie alternatiewe lys maak dit dan moontlik vir die gene wat ander of selfs tematiese leestof wil gebruik, te gebruik. Hierdie lys sal dan ook voortdurend, ten minste een keer per kwartaal, opgedateer word deur Wyanand Malan om invoeling te bly oor wat die mark bied.
Stig van nuwe groepe
Moontlike inklusiewe groepe wat gestig kan word binne die gemeente en die gemeenskap.
· Naskoolse Groep.
Daar is reeds ‘n naskoolse groep wat gestig is. Hierdie groep kom elke tweede Maandag, gedurende skoolkwartale, bymekaar in die jeughuis van die gemeente. Daar is op hierdie stadium 12 lede wat in die groep is. Heinrich Stapelberg is dus die begeleier van die groep en hy het verantwoordelikheid geneem om die groep aan die gang te sit en te verseker dat hulle sal kan aangaan volgende jaar (2014).
Sover is die gevoel oor die groep baie positief, en die terugvoer oor die groep is goed. Daar is dan ook die moontlikheid dat die groep sal groter word soos wat daar nuwe mense geïdentifiseer word.
· Jong getroudes.
Hierdie sal dan ‘n groep wees wat jong getroudes bymekaar bring. Daar sal dan ook spesifieke materiaal aan hulle verskaf word wat hulle sal kan help binne hulle groep. Geïdentifiseerde persone sal saam Heinrich Stapelberg, dan vir die groep verantwoordelikheid neem en sal begin om moontlike mense te kry wat aan die groep sal kan deelneem.
· Enkellopende mense.
Daar is ‘n groot “mark” vir die volgende groep. Baie mense sal aan die groep kan deelneem en baie sal dan hier ook baie kan baat. Geïdentifiseerde persone sal saam met Deon Louw hierdie moontlike mense identifiseer en met hulle kontak maak. Daar is dan ook baie materiaal wat vir die groep relevant sal wees.
· Jong ouers
Hierdie groep sal dan fokus op die nuwe ouers van die gemeente. Ouers wat klein babas en kinders het, en wat onlangs ouers geword het. Hulle kan dan ook by die doopgesprekke geïdentifiseer word en daar kan hulle ook dan bewus gemaak word van die groep. Dit sal ‘n goeie ondersteuning basis gee vir die ouers as hulle met mekaar kan gesels oor die aanpassing van die nuwe kleinding. Sonika Krüger sal dan ook hier ‘n begeleidingsrol kan speel, omdat sy self amper ‘n nuwe ouer gaan wees.
· Kerkgroep.
Hierdie groep kan gestig word uit die mense wat na die aand eredienste bymekaar kom vir koffie. Hierdie hoef dan ook nie ‘n vaste groep te wees nie en hulle kan van week tot week verander. Hier dan kan ons spesifieke materiaal kry of ons kan net werk met die preek van die aand. Hier dan sal die leraar wat die aand gepreek het beskikbaar wees om die gesprek te fasiliteer.
Verdere moontlike groepe
Daar is reeds mense wat aangedui het dat hulle graag aan ‘n groep sou wou behoort. Hulle sal dan in die groepe hier bo ingedeel kan word of as daar ‘n moontlikheid is van ‘n totale ander groep dan kan dit gestig word. Hulle kan dan ook met Wynand Malan in gesprek tree oor die beste moontlike manier hoe hulle dit sal kan doen. Wynand Malan sal dan die persoon wees wat die nuwe groepe begelei.
· Skoolgroep.
Hierdie sal dan poog om jongmense wat deel is van die !0ners en ook van die gr 11 program te lei om hulle eie selgroepe te vorm. Hierdie kan dan ook goed werk om die wat klaar maak met hulle kategese / geloofsontwikkeling steeds deel te hou van ‘n groep wat binne die gemeente funksioneer. Daar is ook reeds belangstelling gewys en Heinrich Stapelberg sal dit verder neem om te kyk of daar iets kan gestig word.
Sosiale Media
Sosiale media is deel van ons tyd en die nodigheid is daar dat ons as geloofsgemeenskap dit gebruik tot voordeel vir die bediening van ons lidmate en die res van die gemeenskap. Spesifiek dan in die bediening van Verhoudingsgroepe.
· Whatsapp groepe.
Die voorstel word gemaak dat elke groep wat gestig word ook ‘n Whatsapp groep sal stig vir hulle spesifieke groep, indien moontlik. Dit is dan ‘n goeie manier om met al die lede van die groep te kan kommunikeer en dit is dan ook ‘n maklike manier om die reëlings van die groep te kan deurgee. Die naskoolse groep en die Teologiese studente is ook reeds besig met sulke groepe en dit werk baie lekker.
Laaste woord...
Indien jou besonderhede verander of jy dra kennis van ‘n moontlike groep of selfs ‘n individu wat wil inskakel maak asb. kontak met die kerkkantoor.
Kerkkantoor: 012 565 5724
Mag hierdie vir jou en jou groep ‘n wonderlike ervaring bied.
Vriendelike Groete
Deon Louw en Heinrich Stapelberg