Michelle Ward
0726116647
mewa...@gmail.com
FLORAUNA VERHOUDINGSGROEPE WEEKLIKS
WAT GEBEUR IN DIE GEMEENTE
Komende Sondag, 22 September, het ons weer gebedsgroepe na die erediens. Persone wat saam met mekaar op ʼn gestruktureerde wyse wil bid, kom na die erediens in die konsistorie bymekaar. Ons gaan tydens hierdie geleentheid op ʼn praktiese manier groepleiers begelei om ʼn effektiewe gebedsgeleentheid tydens hulle kleingroep byeenkomste te lei. Stuur gerus een van julle groeplede om hierdie geleentheid by te woon.
STORIES VAN GOEIE NUUS
Ons wil ook baie graag "stories van goeie nuus" van ons kleingroepe hoor om ander groepe daarmee te bemoedig. Indien julle groep verhale kan vertel van God se trou en liefde oor julle, stuur dit gerus aan my. Ek wil dit graag hier publiseer dat die ander groepe in julle vreugde kan deel. Wanneer julle spesifieke gebedsversoeke het, kan julle dit ook aan my deurgee, sodat ek dit aan die gebedsbediening kan deurgee, en die ander groepe kan vra om saam met julle daaroor te bid.
AANBIDDING TYDENS DIE KLEINGROEP BYEENKOMS
Ons hoor dikwels dat kleingroepe nie juis tyd afstaan aan aanbidding nie, want "niemand in ons groep kan ʼn instrument bespeel of sang lei nie". Ons is arm aan aanbidding, omdat ons dikwels ʼn verskraalde idee het van wat aanbidding is. Aanbidding is in die eerste plek die gesindheid, die ingesteldheid waarmee ons na die Here toe gaan. Dis ʼn leefstyl eerder as ʼn aktiwiteit. Dis nie iets wat ons af en toe doen wanneer ons bymekaar kom nie. Aanbidding is iets waarmee jy besig is elke oomblik van jou lewe.
Ons kan ʼn hele klompie aktiwiteite aanleer om uiting te gee aan ons nuwe aanbidding-leefstyl. Een daarvan is lofprysing, waar ons onder andere musiek en sang gebruik. Baie groepe gebruik CD musiek baie effektief om lof en aanbidding te doen. Soms speel ek sommer net ʼn lied, waarna die groep saam luister terwyl ons nadink oor die woorde en met die Here besig raak daaroor. Ons sing dus nie eers saam nie, ons geniet net die musiek en die woorde. Wanneer die lied klaar is, gaan ons gewoonlik oor in ʼn tydjie waarin elkeen in die groep, soos hulle wil, dank en eer aan die Here gee.
Ander kere gaan ons in die rondte om, waar elkeen in die groep een element noem waarvoor hy of sy die Here wil dank. En as die een persoon ʼn element noem wat jy ook wil noem, dan noem jy dit ook, al is dit dan ʼn tweede keer in die groep gesê. So ʼn gebed kan as volg klink, waar elkeen in die groep iets klein noem: "Dankie Here vir die reën; dankie vir my ouers, Here; Jesus, dankie dat ek vergewe is; Vader, dankie dat U voorsien; Dankie, Here, U het my genees..." Ons gaan dikwels op hierdie manier om en om in die kring, totdat dit later stil word, amper soos ʼn warrelwind wat later tot bedaring kom. Probeer dit gerus as ʼn ander manier om aanbidding in die groep te beleef!
Mag julle hierdie week aanbidding op ʼn nuwe en opwindende manier beleef, in die groep, maar ook by jouself.
Groete
Wynand Malan