Hallo julle
Hier is dag 2. As julle nie die DVD het nie, kan ek dit vir julle leen. As julle dit dalk self wil aanskaf, dit is by CUM boeke beskikbaar.
Groete
Dag 2
Met Dag 1 het ons gesien dat God ʼn God is wat kommunikeer. En Hy doen dit van Sy kant af, sonder dat ons eers daarvoor gevra het. Vandag gaan ons kyk na die manier hoe God Homself aan mense bekend gestel het.
Die heel eerste eienskap van God wat ons in die Bybel raaksien, is die feit dat God die een is wat alles geskep het. Daar is ʼn baie spesifieke Hebreeuse naam wat die skrywers van Genesis gebruik het om ons skeppende God te beskryf. (Onthou dat name in die Hebreeuse kultuur baie sterk betekenis gedra het. Jou naam het jou karakter beskryf. Dieselfde so met God: elkeen van Sy name beskryf iets van Sy karakter.)
Lees Genesis 1:1. Dink daaraan dat God voor die “begin” alreeds daar was. Niks of niemand het Hom gemaak nie. Hy was nog altyd daar. Hy het geen begin of einde nie. En alles wat gesien kan word, selfs dit wat nie gesien kan word nie, het deur Hom tot stand gekom. Lees dan ook Johannes 1:1-3.
Die Hebreeuse naam in Genesis 1 is besonders. “Elohim”. Dis ʼn meervoudsvorm, wat alreeds sê dat God nie net enkelvoudig is nie. Hy is meer as een, meer as… alles! Sy volle wese is by die skepping betrokke. Hy sit Sy hart daarin, Sy alles! En anders as alle ander skeppingsverhale van die ander antieke godsdienste, is Elohim betrokke by Sy skepping na dit geskep is. Al die ander sogenaamde gode staan apaties as alles klaar geskep is. “God is watching from a distance”, is hulle filosofie. Maar nie ons God nie!
Gaan deur hierdie dag en probeer raaksien hoe God betrokke is in Sy skepping. Bring dit nader aan jou eie vel: probeer raaksien hoe Hy betrokke is by mense rondom jou, en by jouself. Verwonder jouself net weer oor die wonder van die skepping!
Kyk na die DVD van Louie Giglio, “Indescribable”. Julle kan dit elkeen individueel by die huis kyk, en dan julle gewaarwordinge daaroor met mekaar deel tydens julle eerste groepsgeleentheid.
Wynand Malan
