FLORAUNA VERHOUDINGSGROEPE: NOVEMBER NUUS
WAT GEBEUR IN DIE GEMEENTE
Dit voel soos gister dat die skole vir die laaste kwartaal begin het, en nou is dit alreeds eksamentyd. Die jaar is nou amper op sy rug. Maar dit beteken dat almal nou aan die skarrel is om alles betyds klaar te kry voor die kersklokke in ons ore lui!
Hierdie besige tyd het ʼn invloed op ons kleingroepe ook. Ons vind dat groepe in hierdie tyd minder bymekaar kan kom, omdat almal so besig is. En natuurlik maak die werkery aan die paaie dit geensins makliker nie!
Ons gaan nou Advent tyd binne, waarin ons fokus op Jesus se koms en die verskil wat Hy in ons lewens kom maak het. In November gaan ons die volgende tydens ons eredienste beleef:
Sondag 3 November is Doop Sondag. Doop is altyd vir ons baie spesiaal in die gemeente. Ons betrek die kinders, en probeer ʼn huislike en persoonlike atmosfeer in die gemeente skep. Tydens die aanddiens tree prof. Stephan Joubert by ons op. Maak asseblief moeite om julle groepe uit te nooi na die geleentheid. Onthou ons aanddienste is om 18:00.
Sondag 10 November het ons tydens ons aanddiens ʼn geleentheid waar ons Graad 11 leerlinge getuienis oor hulle geloof aflê. Ook hier maak ons dit huislik en intiem. Orna en Heinrich doen baie moeite om die erns van die geleentheid by die kinders tuis te bring. Kom hoor hoe ʼn klomp jongmense hulle passie vir die Here met ons kom deel.
Die derde Sondag van die maand, 17 November, het ons tydens ons oggend diens ons jaarlikse Adventdiens. Hierdie jaar hou ons dit "local"! Ons het slegs ʼn paar items op die program waar ʼn groepie mense ons bedien met sang en musiek, maar die grootste deel van vanjaar se program is lekker gemeentesang! Almal wat deelneem aan vanjaar se diens, is bekende gesigte uit ons eie gemeente. Die aanddiens is ons jaarlikse "celebration" waarin ons saam met die jonger generasie die Here gaan dankie sê vir Sy groot guns en genade deur die jaar. Soos elke jaar sien ons vanjaar weer uit na ʼn lekker hoogtepunt-aanddiens! Maak seker jy en jou kleingroep is daar.
STORIES VAN GOEIE NUUS
Iemand deel die afgelope maand met my hoe onbeskryflik dit is in hulle kleingroep. Waar die wêreld daarop ingestel is om mense uit mekaar te trek en te beskinder, vind hulle die veiligheid en vertrou binne die groep van onbepaalbare groot waarde. "My kind kan niemand vertrou in sy klas nie. Hy kan niks persoonlik met iemand deel nie, want iewers kom dit uit op ʼn vernederende manier. Maar in die kleingroep kan hy sy hart oopmaak, en ons kan hom opreg bedien en ondersteun, sonder dat hy bang is dat iemand hom daaroor gaan spot." Dit deel ʼn pa met my, wat met trane in sy oë getuig hoe hulle lewens verander het vandat hulle geleer het om mekaar te vertrou binne ʼn kleingroep. Vertroue en respek is twee van die kern-waardes wat ons handhaaf wanneer dit kom by kleingroepe in die gemeente.
STUDIE MATERIAAL VIR KLEINGROEPE
Ons herinner julle daaraan dat daar op ons webblad weer materiaal gepubliseer is vir gebruik tydens kleingroep byeenkomste. Daar was vir ʼn week of wat ʼn kinkel in die kabel, maar die sisteem is weer aan die werk. Daar is studie materiaal wat inpas by die Advent tyd, en strek tot kort voor Kersfees, vir die wat in die vakansietyd steeds bymekaar gaan kom. Kyk gerus daarna.
Vrede vir julle
Wynand Malan