Ek roem u Naam...
Dirk Taljaard
Skriflesing
‘Jy mag nie’ of ‘moenie’ is die
woorde wat kindertjies seker die meeste hoor. Dis een manier
om hulle die verskil tussen reg en verkeerd te leer. Hoewel
ons nie daarvan hou dat iemand ons probeer reghelp nie, het
ons as kinders van die hemelse Vader nodig om te hoor wat
mag en wat nie.
Ons mag nie sy Naam misbruik nie. Wat beteken dit vir
ons?
• Natuurlik in die eerste plek dat ons dit nie as
‘n stopwoord gebruik nie. Mens krimp soms ineen
wanneer jy hoor hoeveel keer die Naam ‘God’ en
‘Here’ sommer net in gesprekke ingeryg word.
Luister maar na die tekste in flieks en ander produksies.
Dis om van te huil! Ons moet mekaar maar daaroor aanspreek,
veral as dit vir ons ‘n beginselsaak is dat ons Here
se Naam vir ons kosbaar is. As ons niks sê nie, is ons
eintlik mede-verantwoordelik vir dié misbruik.
• Ons moet versigtig wees om sy Naam nie
onnadenkend te gebruik nie. Wanneer ons vír of
óór Hom sing, moet dit nie maar woorde wees
nie. Ons ken baie keer die liedere so goed dat ons nie meer
dink wat ons sing nie. Jesus het selfs gewaarsku dat ons
gebede nie ‘n aframmeling van dieselfde woorde moet
wees nie (
Matt
6:7). En hoe vreemd klink dit nie wanneer iemand bid en
in die derde persoon van Hom praat (asof Hy nie daar is nie)
of elke frase begin of afsluit met sy Naam!
• Mens sidder soms as jy hoor hoe mense namens God
sekere uitsprake maak, asof ons sy manier van doen verstaan.
Hoe maklik ‘verklaar’ mense - soms met die beste
bedoelings ter wêreld - dinge as ‘die wil van
die Here’! So word die Naam van die Here gekoppel aan
die grootste onreg, die seerste pyn, die mees
hartverskeurende omstandighede….
Wees maar versigtig wanneer jy die Naam bo alle ander
oor jou lippe laat kom.
Here, laat u Naam ook vandag geheilig word in my lewe.
Amen.
VERS-n-DAG
Argief - Kry van die vorige dagstukkies op ons
webwerf, www.versndag.co.za.
ENGELSE WEERGAWE:
Vers-’n-dag is also available in English. Please
contact us at
ve...@versndag.co.za
if you want to change your subscription to English.
BORGSKAPPE/ADVERTENSIES: As jy belangstel
om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie
te adverteer, kontak gerus bo...@versndag.co.za.
Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie
moontlik wees nie.