Hallo julle
Ons is besig om te kyk wat dit beteken om "in Christus" te wees. Net om jou gedagtes te verfris: hierdie is een van die mees kardinale konsepte in ons verhouding met God. Mak tyd om dit lekker met die Here en met mekaar deur te gesels.
Geniet dit.
W
Dag 4
Die Tabernakel, die tent-in-die-woestyn, was die plek waar ontmoeting tussen God en mens plaasgevind het. Dis die simbool wat aan ons demonstreer hoe verhouding tussen God en Sy kinders weer moontlik is. Vandag gaan ons kyk hoe lyk dit van naby.
Daar is heeltemal te veel detail om alles hier te noem. Ek gaan dus net die belangrikste elemente nou noem. Stap saam met my deur die Tabernakel.
Die eerste ding wat jou opval as jy nader kom, is die vaal buitekant, en die ingang aan die oostekant wat so ontwerp is dat jy nie sommer kan inloer nie. Jy kom daarheen om besigheid te doen, God se besigheid! En God se besigheid is vergifnis, versoening en verhouding.
Wanneer jy by die eerste ingang wil ingaan, staan ʼn priester gereed om jou te help. Hierdie ingang het ʼn naam gehad. Dit het bekend gestaan as die “pad-na-God”, of “Die Weg”. As jy die roete soek om na God toe te gaan, begin dit hier. Dié ingang is die beginpunt van die pad na God toe.
ʼn Priester wag daar om jou te help. Eintlik gaan hy namens jou die meeste van die rituele beoefen, want mense is onrein en sondig, en het iemand nodig om namens jou by God in te tree om vergifnis en versoening te bewerkstelling. Die priester neem jou offertjie en slag dit op die altaar. Die altaar is van suiwer goud gemaak, en op al 4 hoeke is daar iets wat lyk soos bul horings van suiwer goud. Hy neem die bloed, smeer dit aan die goue horings, en sprinkel dit op jou terwyl hy verduidelik dat hierdie diertjie se lewe opgeëis is in die plek van jou lewe, want jou sonde, jou geestelike doodsheid, verdien die ewige dood, en dis net as iemand anders se bloed namens jou vloei dat jou lewe gered kan word. Die res van die diertjie word dan verbrand as ʼn offer aan die Here.
Die priester lei jou verder na die waskom, ʼn groot ronde bak waaruit jy ʼn bietjie water skep om jou hande te was. Die priester vertel ook hier vir jou dat jy as mens onrein is, geestelik en emosioneel vuil voor God, en dat jy eers skoongewas moet word om by God te kan wees. Wanneer dit afgehandel is, gaan die priester alleen verder as hy deur ʼn tweede ingang beweeg. Die tweede ingang lei na ʼn tent met mure en ʼn dak, maar gewone mense mag nie daar ingaan nie. Dis net vir die priesters bedoel!
En dit is waar ʼn gewone mens se ontmoeting met God geëindig het! Jou sonde is vergewe, en jy is skoongewas. Nou kan jy weer in vrede huis toe gaan, tot ʼn volgende keer wanneer jy hierdie ritueel moet herhaal.
Dis alleen deur God se Gees dat ons met God kan kommunikeer. Sonder Sy Gees kan ons Hom nie reg verstaan en suiwer hoor nie. Sonder Sy Gees kan ʼn mens ook nie die dieper geestelike dinge en simbole verstaan nie. Onthou nou dat gewone mense nie God se Gees gehad het nie. God se Gees, Sy asem, is in die mens geblaas toe God die mens gemaak het, en het weer uit die mens onttrek met die sondeval in die tuin. Dis net spesiale mense wat ʼn Goddelike funksie gehad het, wat God se Gees ontvang het. Dit was die priesters, wat namens gewone mense na God toe moes gaan om versoening, reiniging en verlossing te bewerkstellig. Ook die profete, wat namens God met Sy mense moes praat, het dit gedoen deur Sy Gees wat oor hulle gekom het. Laastens was daar die konings wat die volk moes lei, aan wie die Here Sy Gees gegee het om dit te kan doen. Die meeste kontak wat gewone mense dus met God gehad het, was deur die priesters by die Tabernakel. Die hele Ou Testament funksioneer op hierdie basis: mense maak kontak met God deur iemand wat tussen hulle en God kan staan.
God die Vader het Jesus as Priester aangestel, sodat ons deur Hom weer kontak kan hê met die Vader. Jesus was die finale Priester. As jy God wil ontmoet, kyk bietjie hoe Jesus jou ʼn totaal ander belewenis gee wanneer jy na God toe wil kom. Sien Jesus as die Priester by die tempel wat jou ontmoet wanneer jy daar aankom met jou offertjie. Hoor Sy stem as Hy vir jou sê: “My kind, kyk daar op die altaar, kyk na die Lam wat eenkeer, vir almal en vir altyd, geslag is. Dis Ek. Ek het my eie Liggaam geoffer om jou van jou geestelike doodsheid te bevry. Met My eie bloed het ek betaal. Dis My bloed wat op jou gesprinkel is om te verklaar dat jy vir altyd skoon gewas is van sonde. Dis nie nodig dat iets of iemand se bloed weer hoef te vloei om jou te bevry nie. Daardie offertjie in jou hand sal nooit genoeg wees om te betaal vir jou geestelike doodsheid nie. Ek het toe namens jou vir altyd die prys betaal!”
Beleef hoe Jesus jou aan die hand lei en verder neem na die waskom toe. “Kyk hier, my kind, Ek het voorsien dat jy vir altyd rein mag wees, skoon gewas deur die water van My Gees. As jy deur hierdie water gereinig is, dan is jy skoon genoeg om die Vader te ontmoet. Jy is gedoop in My naam. Daardie water is die belofte van My skoonmaakwerk in jou lewe. Jy hoef nie weer en weer jouself te probeer skoonwas nie, want Ek het jou finaal en vir altyd skoongewas!”
Maak weer tyd om hierdie stuk geestelike waarheid jou eie te maak. Sien jouself hoe jy saam met Jesus, eintlik binne-in Jesus, vrygemaak word, en reingemaak word om vir ewig vry en skoon te wees.
· Praat met Jesus daaroor, en skryf weer jou vrae en gewaarwordinge daaroor in jou joernaal neer.
· Dink ʼn bietjie: niemand kom tot binne-in die Tabernakel sonder ʼn offer nie. Wat is die offer wat jy daar aanbring? Wat kos dit jou om in te gaan om verhouding met God te hê?
· Jesus het Homself aan jou kom verbind om vir ewig die plek in te neem van priesters wat tussen jou en die Vader moes staan. Jesus, God self, kom neem die plek in van tussengangers. Dis nie meer nodig dat jy “deur iemand” na God toe te gaan nie, want “deur Christus” is jy vry om met God self te kommunikeer. Sien in jou geestesoë hoe Jesus jou aan die hand vat en verduidelik dat jy met Hom kan gesels oor enigiets, want Hy is God self! Hy is so mal oor jou dat Hy alles wat met Hom verdra het, om hierdie oomblik saam met jou te kan spandeer. Geniet ʼn oomblik as jy in Sy oë staar en Hom bewonder.
Wynand Malan
