Michelle Ward
0726116647
mewa...@gmail.com
FLORAUNA VERHOUDINGSGROEPE WEEKLIKS
WAT GEBEUR IN DIE GEMEENTE
Ons het nou alreeds begin spoed optel vir die jaar en kom nou weer lekker in ritme met al die aktiwiteite. Ons herinner julle aan die ritme van ons gemeente, waar ons elke eerste Sondag van die maand ʼn doop geleentheid het. Ons gaan by sowat ses van hierdie doopgeleenthede direk na die erediens ouerskap toerusting aanbied. Indien julle jong ouers in julle groep het, herinner hulle asseblief daaraan. Sondag 2 Februarie, het ons die eerste ouerskap begeleiding geleentheid aangebied, en die volgende geleentheid sal op 2 Maart in die kapel plaasvind.
Elke tweede Sondag van die maand het ons ʼn verhoudingsbou geleentheid. Met hierdie geleenthede poog ons om mekaar beter te leer ken. Ook hier kan dit ʼn produktiewe tydjie vir jou kleingroep wees, aangesien julle mekaar op ʼn ander manier kan leer ken. Komende Sondag oggend gaan ons direk na die erediens lekker saam kuier rondom die tema: die liefde blom.
Elke derde Sondag van die maand bied ons toerusting geleenthede aan. Ons laat die kollig val op brandpunt vraagstukke van ons tyd sowel as onderwerpe wat jou in staat kan stel om meer oor die Bybel en jou geestelike groei te ontdek. Op 16 Februarie gaan ons spesifiek kyk na die rol van groepleiers in kleingroepe, en die rol wat ander lede in die groep kan speel met betrekking tot hulle gawes en belangstellings. Motiveer sommer jou hele groep om die geleentheid by te woon, want dit gaan oor die betrokkenheid van elke groeplid by die aktiwiteite van die groep.
Elke vierde Sondag val die fokus op gebed. Daar is dan geleentheid na kerk om sommer spontaan in klein groepies te deel en saam te bid. Daar is ook in die kapel ʼn gebedsgeleentheid waar ons meer gestruktureerd vir sowat 10 minute saam kan bid. Die persoon wat jou kleingroep se gebedsake hanteer, kan met groot vrug hierdie geleentheid bywoon om idees te versamel om die kleingroep-gebedstyd interessant te maak.
STORIES VAN GOEIE NUUS
Een van my vriende vertel aan my hoe kosbaar dit was om deur ʼn baie donker tyd in hulle lewens te kon gaan met die ondersteuning van hulle kleingroep. My vriend was nog altyd in staat om ander te help en by te staan in nood, maar die laaste paar maande het die bordjies verhang. Hy vertel hoe hy prakties kon beleef dat hy tot alles in staat is deur die krag van Christus wat hy in die kleingroep beleef het.
STUDIE MATERIAAL VIR KLEINGROEPE
Het julle die "Week van Gebed"-materiaal op ons webwerf gesien? Dit is so opgestel dat enigiemand op enige tydstip wat vir hulle geleë is, daarmee kan begin. Dit is ʼn baie persoonlike stuk, maar bied geleentheid vir wonderlike groepsgesprekke wanneer kleingroepe besluit om dit saam deur te werk. Ons gaan oor die volgende paar weke elke week ʼn groepstudie oor een van die sewe onderwerpe publiseer. Kyk gerus daarna as julle dit verder as groep wil bestudeer.
Vrede vir julle
Wynand Malan