Groep

0 views
Skip to first unread message

Wynand Malan

unread,
Sep 12, 2013, 2:15:51 AM9/12/13
to ons-se...@googlegroups.com

Hallo julle

Ek vertrou dat dit met julle goed gaan. Hierdie tyd van die jaar is mos gewoonlik mal besig, so ek dink aan julle en bid vir vrede en voorspoed in elkeen van julle se lewens.

Wanneer julle ʼn tydjie kry, sal ek bly wees om te hoor hoe dit met julle geestelike reis gaan. Soos ek die vorige keer laat weet het, wil ek nie druk op julle plaas nie. Ek gaan dus nie verdere dagstukkies deurgee totdat julle my laat weet julle is reg daarvoor nie. Neem eerder drie jaar om deur die proses te gaan, as dat ons dit probeer deurdruk en dit raak  nie deel van ons lewens nie.

In ons geestelike ontwikkeling is dit belangrik om te onthou dat jy  in drie domeine beweeg. Die eerste domein is jou publieke domein. Dis waar jy voor mense lewe, tussen mense beweeg, en ʼn "beeld" het om te handhaaf. Sommige mense moet, om te oorleef binne hierdie domein, ʼn gedrag aanleer wat soms in teenstelling is met hulle persoonlikheid. Jy ontwikkel ʼn publieke persona. Daar is niks daarmee verkeerd nie, dis soms ʼn opwindende ontwikkeling van jou as persoon.

Die tweede domein is jou persoonlike domein. Dis waar jy en jou eie mense alleen kan ontspan. Dis ook soms waar jy alleen verkeer, of weg is van die huis waar niemand jou ken nie, en dalk iewers in ʼn hotel moet oorbly. Hoe dit ook al sy, dit is waar jou ware karakter na vore begin tree, en waar jy jouself kan wees. Die eerste en tweede domeine saam vorm jou uiterlike, of na buite gekeerde leefwêreld.

Die derde domein is jou innerlike domein. Dis waar jy dieper delf om agter te kom wat jy regtig dink en glo. Die kern van jou bestaan is hier gesetel. ʼn Mens kry dit dikwels dat hierdie domein die moeilikste is om by uit te kom. Dis dikwels toegepak met soveel bagasie uit die verlede, of deur so ʼn besige program, of dis doelbewus weggepak omdat die manier waarin jy in jou uiterlike leefwêreld moet leef, so in teenstelling is met dit wat jy jare terug diep in jouself geglo het.

Die reis van ʼn dissipel is om hierdie derde domein weer oop te maak en na vore te bring. Wanneer jy jou innerlike domein weer oopsluit en ontdek, is die volgende deel van die roete om die waarheid en waardes wat jy daar (her)ontdek, weer die basis vir jou uiterlike domeine te maak. Ons streef na kongruensie tussen die drie domeine. Selfs al is jou publieke domein en persoonlike domein wêrelde uitmekaar, kan ons by ʼn student van Jesus die elemente van die innerlike domein raaklees in beide die publieke en persoonlike domeine.

Ek hoop dit maak sin. Om die groter prentjie raak te sien, kyk so daarna: Die eerste deel van die reis is om dieper te delf in jou innerlike domein. Dis daarom dat ek so erg is daaroor dat jy in die gewoonte moet kom om ʼn joernaal te hou, want dis die enigste plek waar jy blatant eerlik met jouself kan wees, en later daarna kan terugkyk en sien hoe jy voor jou eie oë verander. Namate jy vertroue in ʼn medereisiger ontwikkel, leer ons om stukkie vir stukkie klein deeltjies van daardie blatante eerlikheid met jouself, met sulke mense te deel sodat ons saam met mekaar dieper kan delf en nuwe ontdekkings kan maak oor hoe die Here in ons lewens dinamies besig is.

Mag julle ʼn heerlike dag beleef.

Groete

 

Wynand Malan

cid:image001.jpg@01CD0B48.4C9F6DC0

 

image001.jpg
Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages