Dag 3
Adam ene Eva was bevoorreg om God sommer persoonlik te ken. Op voornaamterme! Hulle was “huisvriende”. Elke laat middag, aan die einde van die dag, het die Here by Adam en Eva gaan kuier.
Maar dinge het radikaal verander die dag toe hulle ongehoorsaam geraak het en gesondig het. Die verhouding was verbreek. God en mens kon van toe af nie meer oog tot oog sien nie. Die sonde sou maak dat hulle sal sterf, want God en sonde kom nie by mekaar uit nie.
Geestelike doodsheid het oor die mens gesak soos ʼn donker donderstorm. Maar omdat die mens so ontwerp is om met God in verhouding te staan, het die mens nog altyd bly smag om terug te wees in verhouding met God. Dit is juis daardie eienskap wat gemaak het dat die mens “godsdiens” gefabriseer het, want godsdiens is ʼn manier van die mens om te probeer terugkom na God toe.
Onthou nou dat alle ander antieke godsdienste geglo het dat hulle gode onbetrokke is, en dat die mens van sy kant af hulle pad moet terugvind na God toe. Om redding te verkry, moet hulle goeie dinge doen om so hulle pad terug na hulle god toe op te sluit.
Maar ons God, Elohim, kom na Sy mense toe en stel Homself amper weer van voor af aan ons voor. Hy gebruik ʼn ander Hebreeuse naam, en hierdie naam is God se eienaam! Met hierdie naam beskryf Hy aan ons ʼn karaktertrek wat Homself onderskei van al die ander sogenaamde gode. Hierdie naam beskryf God as die God wat selfgenoegsaam is, wat niks of niemand nodig het om te bestaan nie, selfs nie die mens nie. Hierdie naam was so heilig vir die Jode, dat hulle eers hulle hande sou gaan was voordat hulle waag om die naam neer te skryf. Dis die onuitspreeklike Naam van die onbeskryflike God. Die naam is JAHWE.
Ten spyte van die feit dat JAHWE niks of niemand nodig het om te bestaan nie, is dit juis hierdie naam waardeur Hy vir ons kom sê dat Hy die Een is wat van Sy kant af na die mens toe uitreik! As die Here by Adam en Eva kom kuier, dan is dit JAHWE Elohim, die HERE God, wat na hulle toe kom. Selfs nadat hulle gesondig het, is dit JAHWE wat kom soek waar Sy kinders is. Hy het ons nie nodig nie, maar Hy kom soek ons omdat Hy ons gemaak het en nie apaties kan wees nie. Hy maak moeite, want Sy liefde vir ons is onverganklik.
Skryf in jou joernaal wat jou gewaarwordinge is oor God wat moeite doen om jou terug te kry in verhouding met Hom. Dink na oor tye in jou lewe waar jy kon agterkom dat Hy na jou kom soek het toe jy ver van Hom af was.
Wynand Malan
