Dag 5
Na verloop van baie jare na die skepping, en na die verhaal van Noag, sien ons dat God steeds betrokke is by Sy mense, en dikwels steeds met hulle kommunikeer. Die Here het besluit om, in die middel van die gemors waarin die mens homself bevind, met ʼn nuwe plan te begin. Hy gaan soek iemand wat bereid sou wees om na om te luister. En Hy vind so ʼn persoon: Abram.
So tussen ons: ek dink nogal die Here het met ander persone ook gepraat, maar wat nie bereid was om te luister en die pad voluit te stap nie. Kyk bietjie na die verhaal van Abram se pa, Tera. Hy doen ook die totaal vreemde ding om na Kanaän toe te begin trek, maar haak dan vas in Haran. Dis daar waar die Here dan vir Abram roep, en Abram is bereid om die pad voluit te stap.
Abram hoor toe die Here hom roep, en trek, soos die Here hom beveel, weg van sy familie en sy kultuur om na Kanaän toe te gaan. Abram ontdek dat die God wat alles geskep het – Elohim – na hom toe uitreik en hom kom roep om Hom – JAHWE – te volg. Hy ontdek dat JAHWE verhouding bou, en op so ʼn manier betrokke is in Sy mense se lewens. Hy ontdek God as die God wat seën, en Sy eie Naam as waarborg van Sy seën en beloftes gee. Die belofte wat God vir Abram gee is dat hy ʼn nageslag sal hê wat groter is as al die sterre in die hemel. Die Here is so ernstig oor die belofte dat Hy vir Abram ʼn ander naam gee, ʼn naam wat inpas by Sy beloftes aan hom. Sy nuwe naam, Abraham, beteken: “Die vader van baie nasies”.
Abraham moes ontdek dat die Here soms baie stadig is in die waarmaak van Sy beloftes. Die “vader van baie nasies” moes kinderloos deur die lewe gaan tot op ouderdom 90. Dis op daardie punt dat sy vrou vir hom die raad gee om tog maar die Here te help om Sy belofte na te kom deur haar slaaf aan te bied om ʼn kind vir hom in die wêreld te bring. Maar dit was nie die Here se nommer 1 plan nie. God se nommer 1 plan was ʼn eie kind tussen Abraham en sy eie vrou. Dit gebeur eers omtrent 10 jaar later dat Sarai swanger word. God se belofte rakende ʼn nageslag word waar met die geboorte van een seun! Vandag is jy, as gelowige, ʼn stukkie van die waar-word van daardie belofte. Abraham is met reg nie net die vader van baie nasies nie, maar ook die vader van al die gelowiges!
· Het jy al beleef dat die Here iewers in jou lewe aan jou al ʼn belofte gegee het? Wat het jy daarmee gedoen? Het dit waar geword? Praat met die Here daaroor, en skryf jou gewaarwordinge daaroor in jou joernaal neer.
· Dink na oor die volgende belofte wat die Here aan Sy kinders kom gee het.
“Maar aan almal wat vir Jesus aangeneem het, elkeen wat in Hom glo en hulle vertroue in Hom stel, het die Vader die belofte kom gee, hulle die reg gegee, om vir ewig Sy eie kinders te wees.”
Johannes 1:12
Wynand Malan
