Hallo julle
Ek kan nie sien of hierdie epos deurgegaan het nie. Om die waarheid te sê, gister se epos, waarop julle my al terug geantwoord het, lê steeds in my outbox! My rekenaar doen soms snaakse dinge. Indien dit reeds deur is, jammer vir die duplisering.
Die eerste dag se stukkie het julle reeds per Whatsapp ontvang.
Groete
W
SESSIE 2
Wat beteken dit om nuut en vry te wees?
Wat beteken vryheid regtig? Dink ʼn bietjie: is jy regtig vry as jy jou kas kan oopmaak en kan kies watter van die 10 kledingstukke daar is, om aan te trek? Of is jy eers regtig vry as jy uiteindelik gemaklik is in die klere wat jy aanhet na die derde probeerslag? Vryheid, lyk dit vir my, kom dikwels eers nadat jy sekere keuses uitgeoefen het. Keuses is soos kruispaaie in ʼn mens se lewe, en alhoewel jy die keuse het om enige rigting te kies, neem jy eers weer deel aan die lewe as jy jou keuse begin uitleef. En dis waar jy die ware vryheid belewe.
Met ons verhouding met die Here werk dit ook so. Jy is nooit waarlik vry in hierdie lewe voordat jy nie die keuse gemaak het om Jesus te volg nie. Die ergste van alles is dat jy hierdie diep waarheid eers kan ontdek nadat jy Jesus gekies het en die pad saam met Hom begin loop het. Dis Hy wat jou oë oopmaak om dit raak te sien, en jy sal dit alleen kan opmerk as jy saam met Hom terugkyk na jou lewe.
Die vryheid wat ons binne ons verhouding met God beleef, is onmeetlik groot. Wanneer jy inbeweeg in hierdie Goddelike verhouding, bly net mooi niks meer dieselfde nie. Hierdie week gaan ons ʼn bietjie stilstaan by enkele van die dinge wat verander, en enkele elemente van ons vryheid in Christus. Geniet die roete!
So tussen ons: Wanneer ek Skrifgedeeltes gebruik, doen ek dikwels ʼn lekker studie daaroor, veral uit die Grieks, en vertaal dit dan gewoonlik op ʼn manier dat ek die kern daarvan beter kan verstaan. Die gedeeltes wat ek dan so vertaal, skryf ek dan in blou. Dis amper soos ʼn “Amplified Bible” in Afrikaans. Ek glo dit sal vir julle ook waardevol wees.
Dag 1
Lees vandag 2 Kor.5:17
Iemand wat aan Christus behoort [in Christus is, binne-in Christus gevestig is], is ʼn nuwe mens [totaal nuut, nuut en vars soos ʼn pasgebore baba]. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God.
· Skryf vandag in jou joernaal ʼn dankie-sê brief vir die Here as jy tyd maak om terug te dink oor jou lewe, en raaksien wat alles nuut geword het in jou lewe. Dink lekker ver en wyd! Dink sommer aan jou tandekry dae, toe jy nuwe groot voortande gekry het. Dis nuut! Dink aan die nuwe kar wat julle gekoop het, maar dink veral aan klein gewoontetjies wat jy afgeleer het, en troetelsondes waarvan jy ontslae geraak het.
Wynand Malan
