Dag 2

0 views
Skip to first unread message

Wynand Malan

unread,
Oct 29, 2013, 2:36:41 AM10/29/13
to Ewoud-selgroep

Hallo julle

Hier is sommer die tweede dag se leeswerk. Hierdie behoort genoeg stof te wees om julle more aand besig te hou!

Geniet dit.

W

Dag 2

Om God te kan ontmoet is ʼn fenomenale voorreg en ʼn lewensveranderende gebeurtenis. Maar vir eeue was dit ʼn baie skaars gebeurtenis.

Voor Jesus se koms na die aarde het ontmoeting met God alleen gebeur deur middel van tussengangers, deur priesters en profete. Dit het verder hoofsaaklik gesentreer rondom ʼn bepaalde plek, naamlik die tempel. Die oorsprong van die tempel was eintlik ʼn tent wat in die woestyn opgerig was, en wat as die Tabernakel bekend gestaan het. Dit beteken “Tent van Ontmoeting”. Moses het deeglike verduidelikings by die Here ontvang oor hoe die Tabernakel moet lyk en gemaak word. Tot in die fynste detail is die plan aan hom deurgegee. As jy eers verstaan waaroor dit alles gaan in en om hierdie besonderse tent, raak die avontuur van ontmoeting met die Lewende God ʼn nog dieper en ryker ervaring. As jy tyd het om te lees hoe die Here die voorskrifte vir Moses gee, en hoe die Tabernakel vervaardig is, lees Eksodus 25-27, en 35-39.

Alles in die Tabernakel het simboliese waarde. Elke stukkie fyn borduurwerk, selfs die kleure van die garingdraadjies, het spesifieke betekenis. Elke stukkie hout en goud wat gebruik was, dui op dieper dinge wat die Gees openbaar, terwyl dit op die oog af dalk na wêreldse prag en praal kan lyk. Ons gaan af en toe van hierdie klein detail-elemente uitlig soos wat ons vorder.

Van ver af lyk die tabernakel maar vaal en lelik. Van die buitekant sien jy slegs die onaantreklike songebrande velle waarvan die buitekante van die afskortings en die dak van die tent gemaak is. Dit dui onder andere op Jesus, wat in Sy lyding so mishandel was dat mens nie eers na Hom wou kyk nie.

“Baie mense was so ontsteld oor Hom. Hy was so misvormd dat Hy nie meer soos ʼn mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ʼn mens gehad het nie.Jesaja 52:14

“Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na Hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van Hom sou hou nie.” Jesaja 53:2

Maar dis aan die binnekant dat die wonderskone prag en asemrowende skoonheid jou oorrompel! Die kontras van die vaal buitekant teenoor die kleurryke binnekant maak jou oë oop vir die wonder van wie Jesus regtig is. God kom wys vir ons dat Hy Sy beste vir ons gegee het, sodat ons met Hom in ʼn verhouding kan leef! Net die beste hout, en suiwerste goud is gebruik om die Tabernakel te bou. Net die beste is goed genoeg om jou vry te koop van die dood.

Die Tabernakel was nie ʼn toeriste aantreklikheid, soos die katedrale in Europa nie. Dit was vir deelname! Jy kan nie daar ingaan om te “kyk hoe dit daar lyk” nie. As jy daar ingaan, gaan jy in met die doel om God te ontmoet. Jy kom met jou offer, of jy bly buite. Dit wys vir ons hoe ernstig die Here is oor verhouding met Hom. Christenskap is nie iets wat jy “kan probeer om te sien of dit werk” nie. Dit vra commiment. Dit vra deelname. Talle mense wat Christenskap “probeer” het, het in werklikheid nog nooit “ingegaan” om God se grootheid te beleef nie. Hulle staan nog buite, en al wat ʼn mens van daar af kan sien, is die vaal en vervelige buitekant.

Dink ʼn bietjie: is dit nie so dat mense wat Christenskap “probeer”, eintlik maar van ʼn afstand af kyk, en dink dis vervelig nie? En as jy aan hulle probeer verduidelik hoe dit regtig is, dan ontbreek die woorde om daaraan reg te laat geskied? Niemand kan verduidelik hoe verhouding met God is nie; dis iets om self te proe, self te beleef! Soos om in te gaan tot binne in die tent!

Neem vandag ʼn tydjie om iewers stil te sit en die Vader te dank vir die detail waarmee Hy ʼn plek gemaak het in Sy hart vir jou! Bewonder Hom dat Hy Sy beste gegee het om jou hart terug te wen.

Werk ʼn bietjie hieraan

Skryf iets hieroor in jou joernaal: Hoe beleef jy jou verhouding met die Here?

·         Is dit nog vaal en kleurloos, asof jy nog van die buitekant af na die Tabernakel kyk? Wat keer jou om in te gaan en die binnekant te geniet?

·         Dalk het jy dit reeds gewaag om in te gaan en die wonder van ʼn lewende verhouding met God te geniet. Wat staan vir jou uit in jou verhouding met die Here?

 

 

Wynand Malan

cid:image001.jpg@01CD0B48.4C9F6DC0

 

image001.jpg
Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages