Hallo julle
Hier is ʼn volgende stukkie wat julle ook nogal ʼn tydjie kan besig hou! Geniet dit!
Groete
Wynand
Dag 3
Die Tabernakel was eintlik ʼn verduideliking van hoe verhouding met God werk. Ons weet nou ook al dat verhouding met God slegs moontlik is deur Jesus. Die Tabernakel is dus eintlik ʼn verduideliking van wie Jesus is, en hoe Hy ons by die Vader uitgebring het. Ons kan amper sê die Tabernakel is ʼn “skildery” van Jesus, ʼn prentjie van redding, van geestelike vernuwing en groei. Vandag gaan ons hierdie prentjie begin ondersoek.
Net deur die manier waarop die volk die Tabernakel moes opslaan as hulle kamp opslaan kan ons alreeds sien hoe graag die Here die kern van ons lewens wil wees. Die volgende inligting klink vreeslik tegnies, maar dis eintlik fenomenaal. Wanneer die volk kamp opgeslaan het, moes hulle dit volgens die 12 stamme doen. Aan die oostekant moes Juda, Issaskar en Sebulon, hulle tente opslaan. Altesaam was daar 186 400 manne bo die ouderdom van 16 (weerbare manne), en dan kom al hulle familielede ook nog by. Aan die suidekant moes die stamme Ruben, Simeon en Gad hulle tente staanmaak, altesaam 151 450 weerbare manne. Aan die westekant het Efraim, Manasse en Benjamin vir hulle ʼn kampplekkie opgerig. Hulle was 108 100 man sterk. En laastens, aan die noordekant, was dit Dan, Aser en Naftali wat kamp opgeslaan het, en het 157 600 getel.
Maar dit was reg in die middel van al die stamme waar die Tabernakel sy staanplek gekry het, en al die Leviete moes direk rondom die Tabernakel woon. Die Here het daardeur vir sy mense probeer wys dat Hy heeltyd reg in die middel, tussen hulle is. Hy is nie op ʼn afstand nie, maar reg by hulle. Hy is die kern waaroor dit gaan. En meer nog: kyk weer na die getalle, en dink dan hoe groot elke blok moes wees waarin die onderskeie stamme hulle tente staan gemaak het. Aan die oostekant is daar ʼn groot blok met 186 400, terwyl die westekant die kleinste groepie mense gekamp het, net 108 100. Die twee groepe aan die noorde en suidekante was min of meer ewe groot: 151 450 en 157 600. As jy die grondplan van die kamp sou teken, sou dit min of meer soos volg lyk.

Ek weet nie van jou nie maar vir my lyk dit baie na die vorm van ʼn kruis. En dis glad nie sommer toevallig nie. Die Jode sou dit nooit kon raaksien nie, maar dis opgeteken sodat ons kan raaksien dat God se mense alreeds toegevou was deur Jesus, in die simbool van die kruis. Die Here wou toe alreeds vir hulle wys dat Hy hulle Verlosser is, en dat selfs die volk wat trek, binne in die teken van die kruis, dus “in Christus”, na hulle beloofde land toe getrek het. Wanneer die Gees van die Here afgekom het in die vorm van ʼn wolk, en oor die Tabernakel kom staan het, het die Vader letterlik die volk gesien asof hulle alreeds deur Christus nuutgemaak is, al was dit eeue voordat Jesus sou kom. Hy het daar alreeds vir hulle gewys dat Hy ʼn plan het om Sy kinders weer terug te kry waar hulle hoort: in Sy arms, in ʼn liefdevolle en intieme verhouding met Hom!
Ons, wat die voordeel het om van die ander kant van die geskiedenis na alles te kyk, kan sien hoe ons, wat aan God behoort, “in Christus” deel is van God se volk. As jy nou Numeri 2 lees, kan jy eintlik uit “nuttelose” inligting ʼn hele klomp diep geestelike waarhede raaksien.
· Wat sien jy alles raak as jy kyk na die gegewens hier bo? Praat met die Here daaroor, en reflekteer in jou joernaal oor jou ontdekkings.
· Is die Here die middelpunt van jou lewe? Dink ʼn bietjie aan die “12 stamme” in jou lewe: wat is die 12 belangrikste aspekte van jou lewe? Dalk studies, huwelik, kinders, werk, sport, vriende, huis... Trek jou eie lysie op van jou top prioriteite. Teken dan ʼn tentjie reg in die middel daarvan, as simbool van God se teenwoordigheid in jou lewe. Praat dikwels deur die week met die Here, sodat elke aspek in jou lewe terug wys na die middelpunt van alles, naamlik die Here.
Wynand Malan
