DIE WEG NUUSBRIEF
31 Oktober 2022
_________________________
Besoek ook www.dieweg.co.za
************************
GEDAGTE VIR DIE DAG
Die Heilige Skrif is 'n spieël
van die siel.
Wie daaruit lees besef eers wat lewe beteken,
en by wie dit verstaan
groei die vrug van hierdie kennis.
- Peter Abaelard (1079 – 1142) -
************************
BOODSKAP VIR DIE DAG
Die Hele Skrif!
“ ... soos geskrywe is ... “ - Johannes 12:14 (53-vertaling).
Hiermee verwys Johannes na wat in die Ou Testament staan - in die geval Sagaria 9 vers 9: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel - op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.” Die Evangelieskrywers wys graag daarop dat die dinge wat in die Ou Testament gesê is, in die Nuwe Testament vervul is. Dit is vir hulle die groot bewys van die waarheid van die evangelie van Jesus Christus dat die beloftes van die Skrif vir Hom Ja is en in Hom Amen is, (2 Kor. 1: 20).
Die Bybel bestaan uit twee dele. Sommige mense meen dat die Ou Testament minderwaardig is. Vir hulle is die Nuwe Testament meer hoogstaande. Volgens sommige verkondig die Ou Testament die God van toorn en wraak en bloeddorstigheid. Dit staan só vér van ons af en het vir ons niks meer te sê nie. Die Nuwe Testament met die boodskap van Jesus Christus - die “liewe Jesus” - is veel meer na ons smaak ...
En tog is en bly die een net soos die ander die onfeilbare Woord van God. “Daar is geskrywe”, sê Jesus en dan is dit die einde van alle teëspraak. En dan verwys Hy spesifiek na die Ou Testament. Dit is selfs opmerklik hoe dikwels die evangelieskrywers sê dat iets gebeur, sodat die Skrif - en daarmee die Ou Testament - vervul sou word. Die Skrif het nie alleen vir sý tyd en die mense van die tyd gepraat nie, maar het bepaalde profesieë wat heenwys na die toekoms.
Die oortuiging leef by die Bybelgelowige dat die Skrif in vervulling gaan. Die Skrif is gerig op ons, maar hy openbaar ook die toekoms. Daarom het ons in die Bybel die allerbelangrikste bron van inligting wat 'n mens op aarde kan besit. Daaruit ken ons God. Daaruit leer ons ook wat ons diepste nood is - ons is dood in misdade en sondes - “soos geskrywe is.” Ons weet van die Middelaar en verlossing uit ons sondenood - “soos geskrywe is ... “ Maar “soos geskrywe is ... “ gaan die geskiedenis ook in vervulling, Soos ons belydenis dit stel: “die blindes self kan tas dat die dinge plaasvind wat daarin voorspel is.”
Ons is Jesus se volgelinge. Ons leef uit die lig van die Skrif. “Soos geskrywe is...” staan ook oor ons lewe - ons woorde en dade. Dit is die bron van lig en krag. Dit is ook die norm waarop ons lewe gebaseer word . . En die beloftes in die Skrif is ook ons troos vir die toekoms.
Uit: Elke dag in die Lig, deur ds MJ Booyens.
_________________________
--
Kopiereg© Materiaal van Die Weg mag gebruik
word op die volgende voorwaarde:
Dat daar 'n duidelike verwysing na die outeur sowel as die
webwerf www.dieweg.co.za by sodanige materiaal geplaas word.