DIE WEG NUUSBRIEF
Januarie 2023
_________________________
Besoek ook www.dieweg.co.za
************************
Die einde van 'n tydperk
“My tye is in u hand.” - Psalm 31:16 (53-vertaling).
Hierdie webwerf is vanjaar 14 jaar oud. Die rede vir die totstandkoming van Die Weg word elders op die webwerf beskryf, so ook vir die plasing van die dagstukkies die afgelope twaalf jaar.
Die Weg het baie tyd en opoffering geverg: dit was die webwerf en die rekenaarstelsels wat in stand gehou moes word, navorsing wat gedoen moes word, dagstukkies wat geskep en uitgestuur moes word, die administrasie en eposse wat beantwoord moes word......
En nou, na baie jare se arbeid, het die tyd aangebreek om af te skaal. Na deeglike oorweging het ek besluit om nou die daaglikse boodskappe te staak. Al die vorige boodskappe bly steeds op die webwerf waar u dit nog steeds kan lees sodat u krag daaruit kan put. Ek sal per geleentheid wel kort artikels op die webwerf plaas en dit dan ook aan almal op die verspreidingslyste stuur.
Ons beplan om met die verloop van tyd, as die Here dit so wil, van ons eie boodskappe en artikels wat op die webwerf verskyn, in boekvorm te verwerk.
Ek is dankbaar vir die geleentheid wat ek gehad het om vir so vele mense, oor soveel jare, daagliks tot hulp te kon wees. Ons dank die Here wat ons ook daartoe toegerus het om die werk te kon doen.
Ek wil dan afsluit met hierdie woorde van Izak de Villiers:
“Van tyd kan 'n mens baie dinge sê. Tyd heel wonde en laat 'n mens vergeet. Tyd vlieg verby en namate jy ouer word, lyk dit of dié al hoe vinniger gaan. Jy kan tyd nie terugkry nie, want wat verby is, is verby. En jy kan jou tyd verspeel, of só geïnteresseerd raak in iets dat jy nie agterkom dat die tyd verbygaan nie. Verliefdes kom tyd selde agter.
“Die Prediker het 'n halwe hoofstuk geskryf oor die feit dat alles 'n bepaalde tyd het: om te huil en te lag, om te plant en uit te roei, om te lewe en te sterwe, om lief te hê en te verlaat (vgl Pred 3). Ja, en die Prediker was nie 'n baie vrolike man nie. 'n Mens verkies die optimisme van Longfellow:
“Lives of great men all remind us
we can make our lives sublime
and, departing, leave behind us
footprints in the sands of time
(uit: A Psalm of Life).
“Ons hoop ons kan 'n voetspoor in die sand van die tyd agterlaat, dalk vir iemand om te volg. Totius het gesê dat wanneer hy die grens van die ewigheid oorsteek, hy die voetspoortjies van sy heengegane kinders voor hom sal sien om hom huis toe te lei. Dis alles mooi beelde, maar Dawid s'n is die mooiste: 'My tye is in u hand ..' (Ps 31:16; 53-vertaling).
“Dis of 'n mens in jou verbeelding 'n groot hand sien, of liewer twee hande saam gehou sodat dit 'n bakkie vorm, met alles, ook my hele aardse program daarin. Daardie hande is beskermend, onderhoudend, koesterend, ewig, sterk en veilig. Wat ook al met my gebeur, gebeur binne die beskermende sfeer van daardie Goddelike hande. Dis natuurlik 'n baie menslike beeld wat Dawid vir God gebruik, maar dit druk die gevoel van God en sy totale heerskappy en liefde uit. Dis tog Dawid wat gesê het: Selfs vir my straf wil ek liewer in die hande van die Here as dié van mense val ...
“Daarmee kan ek, mens, my vereenselwig - met oorgawe en berusting.”
Uit: In die Teenwoordigheid van God
deur Izak de Villiers
- - - - -
Groete in Christus
-dw-
_________________________
--
Kopiereg© Materiaal van Die Weg mag gebruik
word op die volgende voorwaarde:
Dat daar 'n duidelike verwysing na die outeur sowel as die
webwerf www.dieweg.co.za by sodanige materiaal geplaas word.