DIE WEG NUUSBRIEF
21 November 2022
_________________________
Besoek ook www.dieweg.co.za
************************
GEDAGTE VIR DIE DAG
Liefde is ernstig en vrolik
verdraagsaam en rigtinggewend!
- Johann Kaspar Lavater (1741 – 1801) -
************************
BOODSKAP VIR DIE DAG
Verdraagsaamheid in die Christen se lewe
As Christene is dit verseker een van ons dure pligte om verdraagsaam te wees. Verdraagsaam beteken om met mekaar geduld te beoefen. Iemand beskryf dit as “geduldigheid, grootmoedigheid, lankmoedigheid, liefdadigheid, lydsaamheid, toegeeflikheid, toegewendheid en toleransie”.
Verdraagsaamheid beteken nie om nie standpunt in te neem nie en maar met alles saam te stem bloot om nie konflik te veroorsaak nie. Verdraagsaamheid beteken nie om die verkeerde goed te keur of te tolereer nie. Verdraagsaamheid beteken om in die liefde van God mekaar te verdra, reg te help en in liefde saam te lewe, al verskil jy ook van iemand anders.
Om mense met minagting te behandel is om ongehoorsaam te wees aan God se gebooie. Die spreekwoord lui: “Woorde wek maar voorbeelde trek” en “Die liefde oorwin alles.” Daar is vandag in die wêreld al meer onverdraagsaamheid tussen volkere, nasies, lande en selfs tussen families en Christene. Ons kyk mekaar met agterdog aan en sodoende vlieg die liefde dikwels by die agterdeur uit.
Jesus Christus het medelye gehad met die mense. Ons lees dat by Jesus se kruisiging het Hy selfs gebid: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:24).
Daarom moet ons eerder vir mekaar bid as ons verskil van opinie of siening. Ons moet bid en vra vir liefde en versoening. Dit is grootmoedig om minder te word, om nie meer te wil word nie. Dit is ‘n opdrag dat God altyd meer en meer moet word in ons lewens (Joh 3:30).
Ds. Gerrit Kruger
_________________________
--
Kopiereg© Materiaal van Die Weg mag gebruik
word op die volgende voorwaarde:
Dat daar 'n duidelike verwysing na die outeur sowel as die
webwerf www.dieweg.co.za by sodanige materiaal geplaas word.